
Twee polisiemanne wat verlede week in hegtenis geneem is nadat juwele ter waarde van meer as R1m geroof is, word nou ook met ‘n ander rooftog in die Ooste van Pretoria verbind.
Die twee vermeende rowers, albei in hul vroeë dertigerjare, is Vrydag aangekla vir die besit van gesteelde goedere en vyf ongelisensieërde 9mm pistole. Die vuurwapens se reeksnommers was almal afgevyl. Hulle het Maandag in die Hatfield gemeenskapshof verskyn.
Volgens Brigadier Neville Malila was die twee deel van ses gewapende rowers wat kort na die juweelroof verlede Dinsdag met behulp van ‘n iPhone in Nellmapius naby Mamelodi opgespoor is.
Die rowers het omstreeks 10:00 by ‘n juwelier op die hoek van Moricestraat en De Villabois in Moreletapark in ‘n voertuig stilgehou. Een van hulle het gemaak asof hy ‘n pakkie by die onderneming wou aflewer en die deur is vir hom oopgemaak. Sy makkers het saam met hom ingestorm. Die rowers was almal met 9mm pistole gewapen.
“Ons was vier personeellede in die winkel. Die mans het ons rondgeruk en beveel om plat te lê. Hulle het daarna al die juwele wat in die stoorkamer en binneste toonbanke uitgestal was gegryp, in die bestuurder se aktetas gegooi en uitgestap.
“Aan die juwele wat na die straat se kant toe uitgestal was het hulle nie geraak nie. Een van die rowers het die gordyne toegetrek en ons het vir ons lewens gevrees. Op daardie stadium het ‘n kliënt die voordeurklokkie gelui. Was dit nie daarvoor nie is ek seker ons sou nie vandag hier gewees het nie,” het Walter Pienaar, een van die werknemers van die onderneming vertel.
Dit wil voorkom asof die rowers vir die klokkie geskrik het waarna hulle haastig uit die winkel gehardloop en op die vlug geslaan het. Bull Security is ontbied.
“Met ons aankoms op die toneel was die personeel erg geskok,” het JP Griesel van die sekuriteitsmaatskappy gesê.
Volgens hom was daar ‘n iPhone in die aktetas waarmee die rowers gevlug het en daar is dadelik aan die werk gespring om die handstuk na te spoor.
“Dit het ons na ‘n erf in Nellmapius gelei. Die geroofde juwele is in ‘n swart motor op die erf gevind. Al die geroofde goedere behalwe ‘n selfoon en skootrekenaar is teruggevind,” het konstabel Adriaan de Klerk van die Garsfontein polisiestasie gesê.
Die twee polisiemanne is in die erf aangetref en in hegtenis geneem. Volgens De Klerk is klagtes van gewapende roof teen hulle aanhangig gemaak. Hulle is in aanhouding in die Garsfontien polisieselle. Die ander vier medepligtiges is nog soek maar die polisie behoort na verwagting binnekort ‘n deurbraak te maak. “Ons volg goeie leidrade op en verwag spoedige resultate.”
