CrimeNews

Fietsryers is nuwe misdaadteiken

'n Fietsryer is aangerand en 'n ander is in die maag gesteek nadat hulle Maandagmiddag in Irene aangeval is.

Fietsryers het weer teikens vir geweldadige misdaad geword nadat twee insidente in een week by die polisie aangemeld is.

Volgens Lyttelton polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Hero Gumbu, is twee fietsryers verlede Donderdagmiddag deur vier mans aangeval terwyl hulle in ’n oop stuk veld in Irene gery het. Hulle het op ’n roete deur die veld langs Pierre van Ryneveldweg, naby die water reservoir, gery.

“Die aanvallers het uit die bosse verskyn en messe op die fietsryers gerig. Die fietsryers se hande is met draad agter hul rûens vasgebind en hulle is van al hul besittings soos selfone, klere, fietse en juwele besteel,” het Gumbu gesê.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

Vroëer die week was Hans van Heerden (60) en Phil Oosthuizen (58) die slagoffers van geweldige aanranding nadat drie mans hulle naby Limestone Hill in Irene aangeval het. Die veld is langs Mainweg en die spoorweë geleë.

Van Heerden en Oosthuizen het Maandag om 16:30 op een van hul gereelde oefensessies uitgegaan. “Ons het juis in ’n gebied gery waar ons gedink het dit sal redelik veilig wees omdat daar baie aktiwiteite is van mense wat na werk deur die veld stap.”

Sonder dat Van Heerden of Oosthuizen dit verwag het, het drie mans uit die veld gespring en die fietsryers dadelik bestorm. “Dit was ’n nagmerrie wat ’n mens altyd geweet het kan gebeur,” het Van Heerden gesê.

Oosthuizen het voor gery en daarin geslaag om eerste om te draai en weg te jaag. Van Heerden was kort op sy hakke. Twee van die rowers het op Oosthuizen afgestorm en een het agter Van Heerden aan gehardloop. “Ek het baie hard probeer om weg te kom, maar die aanvaller het my in gehardloop omdat ek vanuit ’n stilstaande posisie weggetrek het,” het Van Heerden gesê.

Van Heerden het probeer om die aanvaller in sy maag te skop, maar dié het sy voet gegryp en hom van die fiets afgegooi. Van Heerden het gesê hy het so hard geval dat hy twee van sy ribbes gebreek en die ribspiere geskeur het. Die aanvaller het ook vir Van Heerden met ’n klip teen sy kop geslaan.

“Ek het gestoei totdat hy ’n mes uitgepluk het en vir my sê as ek nie wil sterf nie, moet ek op my maag draai. Op daardie stadium het ek besef dat ek nie instaat is om hom te keer as hy my gaan steek nie. Intussen het ek gehoor hoe die ander twee aanvallers iets vir die ou by my in hul eie taal skreeu en hy het geantwoord dat hulle vir Phil moet doodmaak as hy nie saamwerk nie.”

Van Heerden het op sy maag gedraai soos wat vir hom gesê is en sy enkels is baie styf teen mekaar vasgemaak. Hy is opgepluk en in die rigting van die veld gestuur. “Op daardie stadium kon ek nie vir Phil of sy aanvallers sien nie. Ek kon natuurlik ook nie met vasgemaakte enkels loop nie. My aanvaller het my van agter af onder my arms en op my baie seer ribbes opgetel en my na die kant van die pad tussen die lang gras gesleep en gegooi.”

Die aanvaller het Van Heerden se skoene en kouse uitgetrek, sy handskoene afgeruk en hom beveel om sy hemp, waarin sy selfoon was, ook uit te trek. Hy het Van Heerden weer na die grond gedruk en albei sy hande agter sy rug met sagte draad vasgemaak. “Eers op daardie stadium het ek begin hoop dat hy my nie gaan doodmaak nie, want hoekom sal hy die moeite doen om my vas te maak as hy my maklik van agter af met die mes kon steek,” het Van Heerden gesê.

Die aanvaller het daarna met Van Heerden se fiets, sy skoene, kouse, bril, handskoene, selfoon en hemp verdwyn. “Nadat ek besef het hy is weg, het ek begin vroetel en wrumel om myself los te maak terwyl ek die heeltyd bekommerd is dat hulle gaan terugkom en sien my voete is los. Na ’n ruk het ek ook daarin geslaag om die draad om my polse losser te maak sodat ek my hande daaruit kon trek.”

Toe Van Heerden heeltemal los is, het hy na Oosthuizen gehardloop en na hom begin roep. “Ek het die ergste gevrees toe Phil my nie antwoord nie, maar gelukkig na die derde of vierde roep het hy wel geantwoord. Ek het hom in die gras gevind waar hy op sy maag gelê het en vasgebind was.”

Oosthuizen is oor sy kop met ’n klip geslaan, vasgebind en met ’n mes in sy maag gesteek. Sy skoene en fiets is ook gesteel. Die twee vriende het kaalvoet terug gestap in die rigting van Irene. By die Alexander- en Mainstraat kruising het Van Heerden se seun Werner en dié se vriendin Jenny die twee mans in hul weerlose toestand opgemerk en hulle dadelik na Van Heerden se huis in Irene geneem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button