Vier huisinbraakverdagtes is onlangs deur die polisie vasgetrek na ‘n wilde jaagtog deur die hoofstrate in die noorde van Pretoria. Die polisie en gemeenskapspolisiëringforum (GPF) is verlede Donderdag deur ‘n inwoner ingelig van ‘n verdagte motor by ‘n huis in Magalieskruin.
Volgens Sinoville-polisiestasiewoordvoerder, Mirna von Benecke, het die polisie en lede van die GPF kort daarna die motorvoertuig oogespoor en agterna gesit in Safako Makgathorylaan.
“In ‘n wilde jaagtog het die verdagtes hulself vasgery in ‘n doodloop by ‘n sentrum,” het von Benecke gesê.
Die verdagtes het uit hulle voertuig gespring waarvan drie verdagtes ingejaag is deur die polisie. Die vierde verdagte het weggehardloop, en weggekruip in die bosse waarna die polisie hom agterna gesit het. Lugbystand is deur die polisie ingeroep om die man te help opspoor. K9 bystand van Engigyn is ook ingeroep en die laaste verdagte is met behulp van hond en meester opgespoor.
Die verdagtes, wat tussen die ouderdomme van 25 en 35 is, is gearresteer op aanklagte van besit van vermoedelike gesteelde eiendom en huisbraak.
Von Benecke het gesê hierdie geval is ‘n uitstekende voorbeeld van wanneer spanne saamwerk.
“Die stasie wil net erkenning gee aan elke SAPD- en elke GPF-lid wat gehelp het om hiedie 4 verdagtes vas te trek. Dit is net weer ‘n bewys van die goeie werk en verhouding tussen SAPD en GPF.”
