Ouma se kar buite kleuterskool gekaap
'n Ouma is erg getraumatiseerd nadat sy in 'n kaping betrokke was toe sy haar kleindogter by 'n kleuterskool in Doornpoort gaan aflaai het.
‘n Bejaarde vrou is erg getraumatiseerd ná haar voertuig onlangs buite ‘n kleuterskool in Doornpoort gekaap is.
Die 68-jarige, ouma en ma, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het Maandagoggend in die loop van ‘n handwapen vasgekyk toe sy haar kleinkind by kleuterskool afgelaai het.
“Ek het net gewag dat hy die sneller trek,” het die vrou gesê. Sy het omstreeks 06:00 by die kleuterskool stilgehou en haar ses- maande-oue kleinkind uit haar karstoel getel toe ‘n wit voertuig langs haar stilhou.
Twee kapers het uit die voertuig geklim, vermoedelik ‘n rewolver teen die vrou se kop gedruk, en aangedring op haar motorsleutels.
“Ek het probeer om kalm te bly sodat hulle niks aan my of my kleinkind sou doen nie.”
Die vrou het gesê hoewel dit baie vinnig gebeur het, het dit gevoel asof tyd stilstaan.
Die kapers het in haar voertuig weggejaag waarna sy hulp by die kleuterskool gaan vra het.
“Ek is nog baie getraumatiseer en kry nou gereeld nagmerries.”
Sy is minder as twee jaar gelede in haar huis beroof en met ‘n panga gedreig.
Sy oorweeg dit nou sterk om vir berading te gaan.
Sy het ‘n saak van motordiefstal by die Sinoville-polisiestasie aanhangig gemaak.
Die verlate voertuig is later die dag deur die polisie in Mabopane gevind.
Volgens Sinoville-polisie woordvoerder, Mirna von Benecke is nog geen arrestasies in verband met die kaping gemaak nie.
Die Loate SAPS, wat ook die saak ondersoek aangesien die voertuig in Mabopane gevind is, het na verskeie pogings deur Rekord geen kommentaar gelewer nie.
Von Benecke het gewaarsku dat mense op die uitkyk moet wees vir enige verdagtes wat by skole, winkelsentrums of huise rondhang.
“Wanneer mense hulle kinders by die skool aflaai en daar is iemand wat verdag voorkom, gaan dadelik terug na die skoolgronde en vra iemand om saam met jou te stap, of om die polisie te kontak sodat ondersoek ingestel kan word,” het Von Benecke gesê.
Sy het bygevoeg mense moet probeer om so na as moontlik aan die sentrum of skool stil te hou en nie in ‘n afgeleë area van die parkeerterrein nie.
