’n Man van Queenswood is Saterdag helder oordag in Villieria deur ’n groep gewapende mans aangerand en van twee selfone en R300 beroof.
Die voorval het ongeveer 15:00 op die hoek van 32ste Laan en Michael Brinkstraat plaasgevind.
Volgens die man, wat anoniem wil bly, was hy op pad huis toe, toe ’n swart Volkswagen Polo langs hom stil hou en ses gewapende mans uitspring.
Hulle het ’n wapen teen sy kop gehou, hom beroof en aangerand. Hy het verskeie kneusplekke in sy gesig opgedoen.
Volgens Chantell Murphy, die man se werkgewer, het die man ’n jaar-oue baba en is sy gesin afhanklik van sy inkomste.
Konstabel Malapane van die Villieria polisiestasie het gesê die saak is nie by die polisie aangemeld nie.
“Ons is onbewus van enige ander soortgelyke voorvalle in die gebied. Dit is noodsaaklik om sulke gevalle so gou moontlik aan te meld,” het Malapane gesê.
