CrimeNews

Kapers baljaar in Centurion

’n Vrou is geweldadig aangerand toe drie mans haar motor gesteel het .

‘n Vrou is met ’n bottel geslaan en daarna het die aanvaller probeer om haar in die bagasiebak van haar eie voertuig te druk in Willem Bothalaan, Wierdapark. Toe ‘n omstander naderkom om te kyk wat aangaan, het die man en sy twee makkers in haar voertuig gespring, oor haar in die pad gery en toe weggejaag.

Volgens ’n ooggetuie, Yolande Strauss, het drie mans die vroue aangeval toe hulle uit hul voertuig geklim het om ’n man op ’n bromponie te help wat geval het. “Ons het die slag gehoor wat soos ’n ongeluk geklink het en gaan kyk wat aan die gang is,” het Strauss gesê.

Buite het Strauss en haar man, Chris, toe gesien hoe ’n man met ’n vrou baklei. “Ons het aanvanklik gedink dit is ’n rusie tussen ’n paartjie,” het sy vertel.

Chris het nader gestap en gesien hoe een van die mans die vrou met ’n bottel slaan en haar in die bagasiebak van haar eie voertuig probeer druk het. Die mans het geskrik toe hulle vir Chris sien, die vrou weggestamp, in haar voertuig gespring en weggejaag. In die proses het hulle oor die vrou, wat toe in die pad gelê het, gery.

Haar enkel is gebreek en sy het verskeie krapmerke opgedoen. Dis nie bekend wat met die ander vrou gebeur het nie.

Met die aankoms van die polisie het Strauss en haar man vasgestel dat dit die tweede kaping van die aand was.

Vroeër is ’n man in dieselfde straat, maar op ’n ander plek in Willem Bothalaan, van sy selfoon geroof tydens ’n poging tot ’n kaping. Hy het vinnig genoeg gereageer en weggery om die polisie in kennis te stel voordat die mans sy voertuig kon steel. Dit is egter nie bekend of die mans van die eerste kaping betrokke was by die tweede kaping nie.

Strauss het gesê die geval het hulle as gesin opnuut bewus gemaak van die aktiwiteite rondom hulle. “My dogter is bang dat die mans na ons gaan terugkom,” het sy gesê.

Strauss, wat vir ongeveer 15 jaar in die polisiediens was, het gesê sy het al verskeie merkers opgetel wat wys dat haar huis ’n teiken is. Daar is volgens haar ook paadjies in die gras naby haar muur uitgetrap.

“Daar so baie aktiwiteite laat in die aand in ons straat dat ek soms moeilik slaap. My hond is ook die afgelope twee weke baie onrustig,” het sy bygevoeg.

Strauss het gesê daar is verskeie merkers waarop ’n mens moet let. Die misdadigers pak klippe op mekaar om die omstandighede by die teikenhuis voor te stel – twee groot klippe en ’n paar klein klippies dui ’n gesin aan.

Die misdadigers sit ook verskillende kleure proppe op koeldrankhouers of knak boomtakkies in die rigting van die huis wat geteiken word.

“Mense adverteer hul huise en besittings meer as wat ons dink deur om net bloot uit die kar wat nog in die oprit staan te klim en die sakrekenaars uit te dra,” het Strauss gesê.

Huma het gesê kapings is ’n toenemende probleem in Centurion en mense moet meer bedag wees wanneer hulle laat in die aande ry en by hul huise stilhou – veral met die skoolvakansies en Paasnaweek wat om die draai is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button