CrimeNews

Pa glo met vurk doodgesteek

Familie praat oor skokmoord op pa in Eersterust.

‘n Week nadat ‘n pa van drie dogters genadeloos in sy houthuis in Eersterust vermoor is, is daar steeds geen nuwe leidrade om sy vermeende moordenaars op te spoor nie.

Die 42-jarige Yunus Filander het glo drie diewe op heterdaad betrap toe hy vermoor is. Sy sewejarige dogter, Aaliya, het op die moordtoneel in Kawielaan afgekom.

Sy het glo drie verdagtes uit die houthuis sien vlug voordat sy histeries en gillend na Laerskool Fred Magardie gehardloop het om hulp te ontbied. Aaliya is ‘n gr. 2-leerling by die skool.

Die moord het omstreeks 11:00 plaasgevind. Die verdagtes was glo in die hoof-slaapkamer doenig toe Filander hulle betrap het. Hy is vermoedelik met ‘n vurk doodge-steek en met ‘n baksteen geslaan.

Henrietta Deveraux, sy vrou, sê sy was by die werk in Derdepoort toe sy die hartverskeurende nuus ontvang het. Sy en haar drie dogters, Vanessa (13), Aliyana (5) en Aaliya is nog besig om die dood te verwerk.

“Aaliya het my man se liggaam in die hoofslaapkamer gesien lê. Dit was ‘n groot skok en baie traumaties vir haar. Sy dood was so bitter onnodig gewees,” het ‘n hartseer Deveraux gesê.

Volgens Deveraux het Filander in ‘n plas van sy eie bloed gelê. Alles in die huis was omgedop in die verdagtes se poging om enige waardevolle besittings te steel. Hulle het slegs met klere, ‘n radio en ‘n DVD-speler weggekom.

“My hart is in stukke. Dit was so ‘n sinnelose inbraak. My man is vir geen rede doodgemaak.”

Filander se roudiens is verlede Saterdag by die Eersterust Muslim-kerk gehou en hy is in die Nantes-begraafplaas begrawe.

Aaliya ontvang tans berading by die Eersterust-polisie.

Frikkie Gous, woordvoerder van MonAmi Trauma Troops, sê dat só ‘n ontdekking vir ‘n sewejarige kind ‘n geweldige impak op hul lewens kan hê.

“Die kind moet beslis deurlopende berading by ‘n spesialis ontvang om oor ‘n langtermyn te bepaal of sy nog trauma ervaar. Kinders ervaar trauma anders as grootmense en kan dit nie altyd verwoord nie,” het Gous gesê.

Tekens van trauma waarvoor ouers moet uitkyk is nagmerries, algemene gesondheid wat agteruitgaan, sukkel op skool,

verhoudings begin problematies raak, hulle raak bakleierig en soet en gedissiplineerde kinders raak soms opstandig.

Konstabel Sam Shibambo, woordvoerder van die Eersterust-polisie, sê hulle is steeds besig om die saak te ondersoek, maar het geen nuwe leidrade nie.

Hy kan nie die moordwapen bevestig totdat hulle die nadoodse verslag ontvang het nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button