CrimeNews

Jong egpaar in gewapende roof aangehou

Vyf verdagtes het 'n jong egpaar en hul huishulp Dinsdagoggend in Capital Park oorval. Hulle is gedwing om op sitbanke te ‘slaap’ terwyl verdagtes die huis leeg dra.

’n Egpaar van Capital Park is erg getraumatiseerd nadat vyf rowers hulle Dinsdagoggend in hul huis in Capital Park aangehou het.

Volgens kaptein Louise Reed-Steynberg, polisiewoordvoerder, is die egpaar laat oggend in hul motorhuis deur een gewapende rower aangekeer. Die egpaar is onderskeidelik 25 en 22 jaar oud.

“Die verdagte het die egpaar, wat nog in die voertuig sittend was, gemaan om stil te bly en enige waardevolle besittings aan hom te oorhandig. Daarna het hy hulle uit die voertuig laat klim en hulle binne die huis ingeneem.”

Hy het hulle met ’n pistool in die huis gedwing en gevra of daar enigiemand anders in die huis is. Hulle 45-jarige huishulp was ook in die huis tydens die voorval. Die verdagte het al drie slagoffers op die sitkamerstel laat lê en ’n kombers oor hulle gegooi.

“Die verdagte het glo vir die slagoffers gesê hulle moet stilbly en slaap. Ongeveer vier ander verdagtes het daarna die huis binnegekom en alle losstaande items uitgedra,” het Reed-Steynberg gesê.

Sandra du Plessis, woordvoerder van die Wonderboompoort-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê die vrou is na bewering deur een van die verdagtes in die gesig geklap. “Die vrou het deur middel van ’n gemeenskapsradio hulp ontbied en gemeenskapslede het op die toneel opgedaag, maar die verdagtes was reeds weg.”

Volgens Reed-Steynberg het die verdagtes in ’n wit Toyota voertuig en ’n swart motorfiets weggejaag.

Die Wonderboompoort-polisie ondersoek ’n saak van huisbraak en gewapende roof.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button