CrimeNews

Handsakdiewe gevang op kamera

Sindikate doen hul rondtes in winkelsentrums en as ’n vrou nie bedag is nie, kan sy maklik die volgende teiken word.

Twee handsakdiewe is op kamera vasgevang waar hulle probeer het om ’n vrou se beursie uit haar handsak onder haar arm uit te steel.

Salette Frazao het in Februarie ’n onaangename ondervinding gehad toe sy ’n vrou met haar hand in haar, Frazao, se handsak gevang het. Frazao was besig om in ’n Chinese winkel in Mall@Reds, Rooihuiskraal, na items te kyk, toe sy van albei kante deur twee vroue vasgedruk is. Frazao het gesê sy was deur die onbekende vrou gestamp toe dié haar handsak oopgemaak het om haar beursie te steel.

Frazao het die stamp gevoel en omgedraai net om te besef dat die vrou langs haar, haar beursie wou steel. “Ek het haar gevra waarmee sy besig is, maar sy het my dadelik begin vloek,” het Frazao gesê.

Frazao vermoed dat die vroue haar van die bank tot in die winkel agtervolg het, maar sy kan dit nie bevestig nie. Frazao vermoed ook dat die winkelassistent moontlik kop in een mus met die misdadigers is. “Die assistent het die vroue na die deur vergesel, maar dit het nie gelyk of sy teen hulle optree nie. Die Chinese vrou wou ook nie toelaat dat ek die beeldmateriaal op haar sekuriteitskameras sien nie.”

Die volgende dag het Frazao na die sekuriteit van die winkelsentrum gegaan. ’n Sekuriteitsbeampte het haar na die winkel waar die voorval plaasgevind het vergesel om die beeldmateriaal te kry. “Die vrou het steeds gehuiwer om vir ons die video te wys. Die stelsel was ook in Chinees en daarom moeiliker om te verstaan. Uiteindelik het ons die beeldmateriaal opgespoor en ek het dit met my eie selfoon afgeneem omdat die vrou dit nie vir ons wou gee nie. Sy was baie ongeskik hieroor gewees. Sy wou ook nie gehad het ek moet die polisie bel nie,” het Frazao gesê.

Die vrou se gedrag het ’n paar vrae by Frazao opgebring naamlik of sy wettig in die land is en of sy dalk saam met die kriminele gewerk het.

Frazao het die beeldmateriaal terug na die sekuriteit se kantoor geneem. Volgens Frazao het die personeel gesê daar was twee vroue, netjies geklee, wat die hele dag in die winkelsentrum rondgeloop het.

Volgens die sentrumbestuurder, Natasha van der Merwe, is daar sindikate wat in alle winkelsentrums bedrywig is. “Hulle wissel elke week van sentrum tot sentrum en dis gewoonlik twee vroue en een man wat saam werk, maar ons het nie die identiteit van ’n spesifieke persoon nie.”

Volgens Van der Merwe let mense nie op wat om hulle aangaan wanneer hulle inkopies doen nie. “Vroue is die beste teiken wanneer hulle met hul kinders doenig is of besig is om na produkte se pryse te kyk,” het sy bygevoeg.

Frazao het besluit om die video op Facebook te laai, sodat ander vroue meer versigtig kan wees met hul handsakke. “Die mense doen dit so professioneel. Hulle druk jou van albei kante sodat jy nie voel wanneer hulle in jou handsak grou nie.”

Sy het tydens die voorval ook opgelet dat een van die vroue ’n handsak van die winkelrak geneem het. Nadat Frazao hulle gekonfronteer het, het hulle dié handsak teruggesit en uit die winkel geloop – dus was dit vir haar duidelik dat hulle nie die handsak wou koop nie. “Hulle gebruik die winkel se handsak as ’n item om die gesteelde beursie in weg te steek. Hulle neem ’n persoon se beursie, plaas dit in die winkel se handsak sodat hulle niks aan hulle het indien iemand hulle konfronteer nie, sit die handsak terug op die rak en loop uit die winkel. ’n Wyl later sal hulle terugkeer na die winkel waar die daad gepleeg is en die beursie uit die handsak haal.

Van der Merwe het gesê hulle het hul huurders aangemoedig om paniekknoppies in hul winkels te installeer sodat die sekuriteitsafdeling dadelik in kennis gestel kan word wanneer dit nodig is.

Videomateriaal van die voorval:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button