CrimeNews

Man geskiet deur rowers

Man wat op verdagtes by ’n huisroof afgekom het, is deur die rowers in sy been geskiet.

’n Man is in ’n kritieke, maar stabiele toestand nadat rowers hom Dinsdagoggend in Monavoni, net buite Centurion, in die linkerbobeen geskiet het.

Die voorval het om ongeveer 10:50 plaasgevind.

Volgens ’n ooggetuie was vier mans besig om ’n huis te beroof, toe Hannes Naudé in die pypsteelerf afgery het met sy bakkie. Die verdagtes was reeds besig om ’n televisie by die huis uit te dra toe Naudé hulle betrap het. Hy het met sy bakkie voor die huis se hek gestop en uitgeklim. Die rowers het op hom geskiet en hy is in die been gewond.

Dit is onbekend hoeveel skote gevuur is, maar volgens Monitor Net se reaksie-offisier, Etienne Louw, is meer as sewe doppies op die toneel gevind.

Die verdagtes het van die toneel gevlug. ’n Tweede voertuig, wat na bewering ook deel van die eerste groep verdagtes was, was bo in die straat gesien.

Willem Klopper van Monitor Net was sowat ’n straat verder van die voorval toe hy die skote gehoor het. Binne enkele minute was hy op die toneel en het vir Naudé op die grond gevind. Hy het dadelik hulp ontbied en die perseel beveilig.

Die ambulansdienste was vining op die toneel en het Naudé na die naaste mediese sorgdienste geneem.

Die familie is nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Volgens stasiebevelvoerder lieutenant-kolonel Maria Roberts is ’n saak van huisroof asook poging tot moord by die Olievenhoutbosch-polisie geopen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button