
‘n Bejaarde man is vanoggend in die Netcare Montana Hospitaal dood nadat hy en sy vrou op ‘n kleinhoewe in die Bon Accord-omgewing, noord van Pretoria, deur vyf rowers met ‘n graaf en byl oorval is.
Volgens polisiewoordvoerder Kaptein Johannes Maheso is die man (87) en sy vrou (68), wie se name nog nie bekend is nie, Saterdagaand om 17:45 op plot 107 in Francesstraat deur dié rowers aangekeer.
“Die paartjie was alleen by die huis toe hulle deur die rowers oorrompel is,” het Maheso aan Rekord gesê. “Die man is in die kombuis en die vrou in die perdestalle op die hoewe aangeval,” het hy bygevoeg.
Maheso kon hom nie oor die aard van die paartjie se beserings uitlaat nie. Rekord het egter verneem dat die vrou, wat na vermoed word steeds in die hospitaal opgeneem is, wonde aan haar gesig opgedoen terwyl haar man aan erge kopbeserings gely het. Die man het vermoedelik aan dié beserings beswyk.
Volgens Maheso ondersoek die Sinoville-polisie ‘n saak van gewapende roof en poging tot moord. Die vyf verdagtes is steeds soek en die polisie kon nie hul nasionaliteit, wat deur menige inwoners in dié omgewing bevraagteken word, bevestig nie.
Hoewel die polisie ‘n saak van gewapende roof ondersoek, is dit nog nie duidelik wat die rowers van die toneel gebuit het nie.
