Inwoners vrees vir lewe
Inwoners van Bon Accord en omliggende omgewing vrees vir hulle lewe na 'n bejaarde man onlangs met 'n byl aangeval is.

Die gemeenskap rondom Bon Accord lewe in vrees nadat ’n bejaarde man tydens ’n rooftog die afgelope naweek met ’n byl en graaf vermoor, en sy vrou ernstig beseer is. Dit is vermoedelik die derde geval waar ’n byl gebruik word as wapen tydens ’n roof in dié omgewing.
Laszlow Bercsényi (87) is in die Netcare Montana-hospitaal dood na hy en sy vrou, Carol op ‘n kleinhoewe in dié omgewing deur vyf rowers met ‘n graaf en byl bygekom is. Die Bercsényi-egpaar is vermoedelik omstreeks 18:00 deur die rowers Saterdagmiddag oorval.
Volgens Livio Heath, ondervoorsitter van die Pretoria-Noord-sektorpolisie, is dit die derde geval waar ‘n byl gebruik word as wapen. Heath het gesê verlede Dinsdag en Saterdag was daar ook ‘n aanval waar ‘n byl gebruik is. Geen persoon was beseer tydens dié aanvalle nie.
“Dit is die derde bylaanval in hierdie omgewing wat Bon Accord-, Rooiwal- en Honingnestkrans-omgewings insluit.” Heath het gesê mense in die omgewing is oorweldig met vrees oor die groot hoeveelheid gewapende rooftogte in die noorde van Pretoria.
“Gesinne vrees vir hul lewe en kan selfs nie slaap oor die gevare wat op hulle wag.” “Landelike gebiede sover soos Cullinan loop gebuk deur misdaad en dit raak almal,” het hy bygevoeg. Intussen het Jaco Mulder, VF Plus-leier in Gauteng, sy bekommernis oor die polisie se onbekwaamheid in die omgewing uitgespreek. “Die polisie is nie meer in staat om die publiek te beskerm nie,” het Mulder gesê. Hy het bygevoeg weens die disfunksionele misdaadintelligensie-eenheid en swak opgeleide speurdiens is dit maklik vir geweldsmisdadigers om weerlose teikens aan te val en daarmee weg te kom. “‘n Effektiewe misdaadintelligensiestelsel is ‘n absolute voorvereiste vir die voorkoming van misdaad,” het Mulder gesê.
Rekord het die afgelope jaar oor verskeie gevalle van gewapende roof in die Bon Accord-omgewing berig.
Herman Engelbrecht van Daspoort is tydens ‘n gewapende roof in sy linkerhand geskiet toe hy drie booswigte met ‘n kettie probeer afweer het. Die rooftog wat verlede jaar in Oktober by die kampterrein by Bon Accorddam plaasgevind het was maar een van menige aanvalle in hierdie gebied.Volgens Maheso ondersoek die Sinoville-polisie ‘n saak van gewapende roof en poging tot moord. Die vyf verdagtes is steeds soek.
