CrimeLocal newsNews

Vierde plaasaanval in noorde

Nog 'n aanval slegs 'n week na gruwel bylaanvalle.

‘n Vierde aanval in die noorde van Pretoria volg slegs ‘n week na ‘n bejaarde paartjie op hul kleinhoewe in Bon Accord erg aangerand, en ‘n man aan sy beserings dood is.

‘n Man is Sondagoggend op sy kleinhoewe in Rooiwal deur vier rowers oorval.

Volgens Livio Heath, ondervoorsitter van die Pretoria-Noord-sektorpolisie, het die man omstreeks 02:00 op die vier rowers in sy sitkamer afgekom terwyl hulle besig was om van sy besittings te steel.

Heath het gesê die vier verdagtes het die man oorrompel en met ‘n onbekende voorwerp bygekom.

“Die man het ligte beserings, insluitend ‘n kopbesering, opgedoen tydens die struweling,” het Heath gesê.

Hy het bygevoeg dat die verdagtes van die toneel gevlug het.

Die man is kort daarna hospitaal toe geneem waar hy behandel is.

Volgens Heath is ‘n saak van aanranding by die Soshanguve-polisie geopen.

Dié geval volg ‘n week na Laszlow Bercsényi (87) in die Netcare Montana-hospitaal gesterf het nadat hy en sy vrou, Carol, verlede Saterdag deur vyf rowers met ‘n byl en ’n graaf op hul kleinhoewe in Bon Accord aangeval is.

Volgens Heath is daar nog twee gevalle in dieselfde omgewing verlede week gerapporteer waar inwoners aangeval is.

Heath het gesê verlede Dinsdag en Saterdag was daar ook aanvalle waartydens ‘n byl gebruik is. Geen persoon was beseer tydens dié aanvalle nie.

Heath het voorheen aan Rekord gesê dat die inwoners van Bon Accord-, Rooiwal- en Honingnestkrans-omgewings tans in vrees lewe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button