CrimeLocal newsNews

Kunswerke gesteel kort voor uitstalling

Kunswerkte ter waarde van byna R 120 000 is kort voor ‘n uitstalling by kunstenaar Philip Badenhorst se huis in Lynnwood Glen gesteel.

‘n Pretoriase kunstenaar is steeds uit die veld geslaan nadat nege olieverfskilderye ter waarde van sowat R120 000 Donderdagmiddag, slegs drie dae voor hy dit sou uitstal, by sy huis in Lynnwood Glen, verdwyn het.
Philip Badenhorst (56), wat bekend is vir sy kleurvolle en ekspressionistiese werke, was besig om ‘van sy mooiste’ skilderye na buite te dra, toe dit helder oordag gesteel is. Badenhorst het twaalf skilderye uitgedra en dit by die deur, wat na trappe na sy huis lei, neergesit. Hy was op pad om dit na die Tina Skukan-gallery in Faerie Glen, waar die uitstalling Sondag gehou word, te neem.
“Ek het in die huis gegaan om ‘n koppie koffie te maak en toe ek sowat ‘n uur later weer met die trappe na onder stap, het ek gesien daar staan net drie skilderye,” het Badenhorst verduidelik. “Ek het eers gedink iemand trek my ‘n streep. Ek het om die huis gehardloop om te kyk of iemand die ander nege dalk weggesteek het. Maar toe ek weer terugkeer na waar die skilderye gestaan het, het ek besef die deur staan oop en dat iemand dit moes gesteel het,” het hy gesê.

Badenhorst meen die diewe moes die skilderye, wat elk sowat 1m x 1m was, in ’n klein voertuig probeer druk het en nie die laaste drie skilderye kon inpas nie. Dié twaalf was deel van die 55 skilderye wat deel van Badenhorst se uitstalling sou wees.
“Hierdie laaste werke was vir my ‘precious’ – ek sou dit baie graag vir mense wou wys,” het hy gesê. Badenhorst werk al sedert Oktober aan dié uitstalling en het oor Kerstyd soms tot 01:00 in die nag geskilder. “Dit was vir my spesiaal omdat dit meer vrolik en sagter as van my vorige werke was. Maar ek gaan voort met die uitstalling,” sê Badenhorst. Dit sal sy eerste solo-uitstalling in jare wees.

“Ek gaan ‘n klompie van my persoonlike skilderye, wat in my huis hang, uitstal en omtrent 50 skilderye sal Sondag ten toon gestel word.”
Hy het die vermiste skilderye by ‘n klompie gallerye in Pretoria aangemeld en is hoopvol dat dit iewers sal opduik en nie deur die diewe verkwansel word nie.“Anders hoop ek maar dit hang by iemand wat daarvan hou en dat daar nie met dit vuur gemaak sal word nie,” sê Badenhorst.
Hy vermoed die diewe moes óf bewus gewees het van die uitstalling en sy werke, wat op ‘n webtuiste en op Facebook geadverteer was, óf dat hulle hom dopgehou het terwyl hy dit afgedra het en langs die deur neergesit het.

Die Brooklyn-polisiestasie ondersoek ‘n saak van diefstal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button