CrimeNews

Senior landdros deur gewapende rowers in huis aangeval

Die polisie is steeds opsoek na die verdagtes wat onlangs 'n senior staatsaanklaer van Pretoria aangeval en beroof het.

‘n Senior staatsaanklaer van Pretoria se landdroshof, Marian van der Merwe (53), moes Woensdagaand verbete om haar lewe veg nadat twee gewapende inbrekers haar in haar huis in Mainstraat, Waterkloof aangeval en beroof het.

Die rowers het albei klapmusse gedra en het Van der Merwe en haar 18-jarige seun Rohan bykans twee ure aangehou voordat hulle met Rohan se Audi-motor, juwele, ‘n skootrekenaar, selfone en ‘n televisiestel weggejaag het.

Van der Merwe het omstreeks 19:00 rustig in die sitkamer voor die televisieskerm gesit en ingedut. Die ligte was afgeskakel toe die twee rowers die sitkamer binnegekom het. Sy het ‘n geraas gehoor en omdat sy gedink het dat dit haar seun se vriend is vir wie hulle gewag het om te kom groet het sy haar nie veel daaraan gesteur nie. Toe sy die rowers sien het sy geskree en een het haar met die handwapen hard oor die kop geslaan en dit oopgekloof. Sy het haar teengesit maar is hardhandig op die grond gegooi en teen die skouers geskop. Haar bebloede kop is teen die mat vasgetrap terwyl hulle haar voete en hande met kabelbinders vasgebind het.

Rohan is daarna ook deur die rowers aangeval en teen die kop geskop. Een van die rowers het Rohan teen die mond geskop en een van sy tande gekraak. Die ander een het ‘n handwapen teen sy kop gedruk en gedreig dat hy doodgeskiet sou word indien hy beweeg.

Van der Merwe het vertel dat die rowers heel op hul gemak was en later die klapmusse afgehaal het en aanhoudend ander mense gebel terwyl hulle haar en haar seun geteister het.

Sy het gesê dat sy deurentyd gedurende die aanval gevrees het dat hulle haar seun sou doodskiet of haar sou verkrag.

Die rowers het daarna Van der Merwe, wat in daardie stadium erg gebloei het, deur die huis rondgesleep en wou van haar weet waar haar kluis se sleutels is. Nadat die rowers gekry het wat hulle wou hê, het hulle Van der Merwe en haar seun omstreeks 21:00 net so laat lê en met die gesteelde goedere weggejaag.

Hoe die rowers toegang tot die huis gekry het is onbekend. Die huis het ‘n twee meter hoë muur waarop elektriese diefwering ook aangebring is.

Van der Merwe het na die rowers weg is, daarin geslaag om die kabelbinders van haar voete los te woel. Sy het dadelik die noodweerknoppie van Chubb, die maatskappy wat die huis beveilig, gedruk en die kabels om haar seun se hande en voete losgewoel.

Van der Merwe het na die bure gehardloop om hulp te ontbied. Die Van der Merwe-familie het skaars ‘n maand gelede hul intrek by die huis geneem. Die bure het haar gille gehoor, maar wou nie uit die huis kom nie.

Van der Merwe was na die voorval erg getraumatiseerd en moes berading ontvang. Sy het ook harsingskudding opgedoen en het daarna mediese behandeling ontvang. Maandag was sy nog steeds nie op haar pos by die werk nie en was haar huis gesluit.

‘n Woordvoerder Chubb het gesê dat hulle vinnig gereageer het, maar toe hulle by die huis aangekom het, was lede van die buurtwag en die polisie reeds daar.

Terwyl lede van die buurtwag voor die huis rondgestaan en polisie by die huis besig met vingerafdrukke was, is Rohan se verlate Audi deur Netstar in Sunnyside opgespoor. Polisie was vinnig op die toneel maar het bevestig dat niemand tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button