Die flinke optrede van twee polisiebeamptes het daartoe gely dat ‘n beweerde huisrower na ‘n jaagtog in Sinoville vasgetrek is.
Konstabels Marnus Dege en Reneilwe Mabotha het Dinsdag ‘n 27-jarige verdagte gearresteer wat vermoedelik by ‘n huis in Steenbraslaan ingebreek het.
Sinoville-polisiewoordvoerder, Mirna von Benecke het verduidelik dat ‘n werknemer by ‘n huis in die straat die man opgemerk het waarna die persoon die huis se eienaar in kennis gestel het.
“Hierdie arrestasie is aangehelp deur die flinke optrede van ‘n werknemer wat haar werkgewer gebel het toe sy die persoon opgemerk het,” het Von Benecke gesê.
Die geval is kort daarna op die GPF radio uitgesaai.
Dege en Mabotha het ongeveer 12:15 op die wenk oor die radio gereageer waarna hulle by die vermelde huis aangekom en ondersoek ingestel het.
Volgens Von Benecke het Dege die verdagte opgemerk wat agter ‘n muurtjie weggekruip het.
“Konstabel Dege het die verdagte van agter af bekruip maar hy het hom opgemerk en dadelik gevlug,” het sy gesê.
Die beamptes het die verdagte agterna gesit en het hom ‘n paar blokke verder ingehaal en gearresteer. Die beamptes het gesteelde goedere en huisbreektoerusting in die verdagte se besit gevind.
‘n Saak van huisbraak en diefstal is teen die verdagte aanhangig gemaak.
Von Benecke het inwoners aangemoedig om op die uitkyk vir moeilikheidmakers in die omgewing te wees en die polisie in te lig sodra hulle verdagte aktiwiteite opmerk.
“Die polisie doen ‘n beroep op inwoners om hul oë en ore oop te hou vir aktiwiteite buite die gewone in jou buurt.”
Sy het verder inwoners herinner om ten alle tye hul vensters en deure gesluit en toe te hou wanneer hulle nie by die huis is nie.
“Om deure en vensters gesluit te hou gaan miskien nie die booswigte keer nie maar dit sal die proses beslis moeiliker maak om toegang tot ‘n huis te kry.”
