Spoedbulte ‘n gevaar
Inwoners is bekommerd oor hulle en voetgangers se veiligheid met die spoedbulte wat in Bohlmanstraat opgerig is wat ongelukke veroorsaak het.
Spoedbulte in Bohlmanstraat in Hermanstad het inwoners asook ander motoriste bekommerd oor hul veiligheid, en inwoners beweer dat dié bulte reeds talle ongelukke veroorsaak het.
Bekommerde inwoners het nou selfs so ver gegaan om ‘n woordvoerder, Frans du Plessis, aan te stel om die erns van die saak namens hulle te bepleit.
“Daar is baie mense wat in die straat ry wat die spoedbulte eenvoudig ignoreer en dit is juis dan wanneer ongelukke gebeur. Ons het al die aflope drie en ‘n half jaar gesukkel om die Tshwane-metro te kry om iets te doen om ons te help om motoriste se spoed te verminder. Hulle het nou spoedbulte voor ons erwe opgerig maar dit maak dit nou moeilik vir ons om selfs in en uit ons eie erwe te ry,” het du Plessis gesê.
Die spoedbulte help ook glo geensins om die motoriste se spoed te verminder nie en inwoners kla dat motoriste soms teen ‘n hoë spoed van agter teen hulle vasry wanneer hulle by hul opritte probeer indraai.
“Daar was al ‘n paar ongelukke in die pad as gevolg van die spoedbulte en mense se hoë spoed. Die ander probleem is dat die skaduwees van die bome in die straat na 12:00 bo-oor die spoedbulte val en baie motoriste sien dan nie die hobbels nie,” het Du Plessis verduidelik.
Al wat inwoners wil hê is vir die metro om die spoedbulte te skuif na die verkeersirkel wat op die hoek van Welthagan en Bohlmanstraat is.
“Dit sal beter wees as hulle die spoedbulte naby die verkeersirkel oprig dan kan die mense dit mooi sien en spoed verminder. Nou steur hulle hulleself nie aan die spoedbulte voor ons erwe nie,” het Du Plessis gesê.
‘n Ander kopseer vir inwoners van Bohlmanstraat is die druk verkeer. Motoriste wat Van der Hoffweg se verkeer wil vermy gebruik dié straat as ompad. Aanvanklik wou die inwoners hê die metro moet stoptekens by elke kruising oprig, maar hulle was na bewering gesê dat die metro nie stoptekens oprig nie.
“Ons probeer om ongelukke te vermy. Daar is baie skoolkinders wat in ons straat skool toe stap en soos die mense ry is hulle nie veilig nie. ‘n Leerling is reeds voorheen in Slegtkampstraat dood nadat ‘n motor haar gestamp het,” het Du Plessis gesê.
Die inwoners dring daarop aan dat die spoedbulte so gou as moontlik verwyder word en sê dat hulle ook nooit in kennis gestel is dat die munisipaliteit beplan het om die bulte voor hulle opritte aan te bring nie.
Die metro het teen druktyd geen terugvoering gelewer nie.
