Local newsMunicipalNews

Berugte kruising steeds onveilig

Na nóg ’n ongeluk by die kruising van Cantonmentsweg en Selbornelaan in Centurion is die onveiligheid van die kruising weer op die gemeenskap se agenda.

Inwoners van Centurion is opnuut bekommerd oor die veiligheid van skoolkinders wat die kruising by Cantonmentsweg en Selbornelaan in Lyttelton moet oorsteek nadat ’n skoolseun van Hoërskool Centurion vroeër die week deur ’n voertuig omgery is.

Steven Cockrell (15) is Dinsdagmiddag deur ’n voertuig getref toe hy Cantonmentsweg probeer kruis het om ’n roomys by ‘n kafee te gaan koop. Die voertuig het Cockrell op sy linker heup getref.

Hy het nie ernstige beserings opgedoen nie, wel ’n paar kneus-, skraap- en skuurmerke toe hy op die teer beland het.

“Dit kon erger gewees het,” het sy ma, Lynette gesê.

Wyksraadslid, Clive Napier, sê dit is skokkend dat nóg ’n leerling omgery is.

“Dit is onaanvaarbaar dat dit gebeur het. Die munisipaliteit moet inderhaas iets doen om die verkeer in Cantonmentsweg te beheer,” het hy gesê.

Verlede jaar is die kommer oor dié kruising deur ‘n graad 11-leerling (nou in graad 12) aan Hoërskool Centurion, Mariesa Schoeman, onder die aandag van die Tshwane-metro gebring.

Sy het dit gedoen nadat haar beste vriendin, Jánelle van Eck, in Okotber in die hospitaal beland het omdat ’n voertuig haar omgery het toe sy Cantonmentsweg wou kruis.

Haar bekken is op verskeie plekke gebreek en die dokter het toe gesê daar is weinig kans dat sy weer sal kan loop.

Vandag is Van Eck weer huppelend en geniet die lewe van ’n jongmens, maar dit was naelskraap of die ongeluk het die einde van haar sportloopbaan beteken.

Schoeman het na die ongeluk met die hulp van haar ma, Yolandie, ’n petisie opgestel en dit aan die metro gestuur.

In die petisie het hulle voorgestel dat verligte termoplastiese betonspoedhobbels in Cantonmentsweg tussen Glover- en Selbornelaan opgerig word, asook padtekens om aan te dui dat skoolkinders die pad kruis.

Hulle het die metro ook versoek om knoppies vir rooi en groen stapaanwysers by elkeen van die verkeersligte by die kruising aan te bring.

Die metro het in November met vier voorstelle vorendag gekom naamlik, dat die strepe op die pad geverf word, dat die leerlinge in die omgewing opleiding oor padveiligheid ontvang, dat knoppies en stapaanwysers by die kruising geïnstalleer word en dat die metropolisie die spoed van motoriste gereeld monitor.

Die voorstelle het Schoeman en haar ma nie heeltemal tevrede gestel nie, maar het dit nietemin verwelkom.

Volgens Napier het die metro nie al die voorstelle ten uitvoer gebring nie: “Hulle moet ook bykomende planne maak om die pad veiliger te maak.

“Die voorstelle is nie voldoende nie.”

Daar is vier skole in die omgewing naamlik, Lyttelton Manor High School, Hoërskool Centurion, Lyttelton Primary School en Laerskool Louis Leipoldt met ongeveer 3 500 leerlinge wat die kruising daagliks gebruik.

Volgens die metropolisie-woordvoerder, superintendent Isaac Mahamba, kan die publiek ’n formele klag by die metro indien en versoek dat die metropolisie uitgestuur word om ’n sogenaamde probleemgebied te ondersoek.

“As die publiek ’n klagte indien, sal ons dit ondersoek om te bepaal of ons personeel daarheen moet ontplooi,” het Mahamba gesê.

Kontak die Tshwane-metropolisie by 012-358-7095/6 om sulke gevalle aan te meld.

Lees ook meer by https://bit.ly/TRT35t en https://bit.ly/1hPWi88

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button