Eers waai die hare en toe kom die heraanstelling
Tshwane-metropolisiestudent weer aangestel ná hare waai.
Ná ’n hap in die hare en baie emosionele spanning is Suzan Terry weer terug by die Tshwane-metropolisie se akademie.
Terry, ‘n inwoner van Wonderboom-Suid, is sedert Dinsdag weer terug by die akademie nadat sy ’n saak van onregmatige afdanking teen die metro gewen het.
Dit kom nadat ’n metropolisie-inspekteur in Desember ’n hap uit Terry se hare geknip het. Die inspekteur het in Maart skuld erken.
“My vrou het in April vanjaar ’n afdankingsbrief ontvang wat gestipuleer het dat sy versuim het om die inspekteur se instruksies uit te voer,” het Rudi Terry, haar man, gesê.
Sedertdien was dit ’n stryd tussen Terry en die metro om weer aangestel te word.
Gelukkig het die hof beslis dat sy kan voortgaan met die kursus wat sy beoog om in Maart 2015 te voltooi.
Senior superintendent Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie, het gesê Terry se kontrak is beëindig omdat sy geweier het om die instrukteur se instruksies uit te voer.
“Die student is afgedank omdat sy nie die instrukteur se instruksies gevolg het om haar hare in ooreenstemming met die regulasies te sny nie. Sy het nie beswaar teen die instruksies gemaak nie, dus is daar van haar verwag om dit uit te voer,” het Mahamba gesê.
Hy het gesê as Terry klagtes oor die instruksie gehad het, moes sy dit dadelik opgehaal het.
Volgens Mahamba was dit nie net Terry se kontrak wat beïndig is nie, maar ’n totaal van 15 studente se kontrakte is tot op datum beëindig.
“Die inspekteur, wat die student se hare afgesny het, is nie afgedank nie en die saak word tans ondersoek,” het Mahamba gesê.
