MunicipalNews

Gebarste waterpyp rig groot skade aan

'n Gebarste waterpyp in Wonderboom-suid en ’n rivier van riool in Jan Niemandpark het inwoners die herrie in.

Wat vir Johan Erickson soos ’n klein waterlekkie gelyk het, het binne dae in ’n waterramp verander met derduisende rand se skade.

Erickson en byna die helfde van Meyerstraat se inwoners in Wonderboom-suid is Donderdagaand omstreeks 23:00 deur ’n geweldige slag wakkergemaak.

’n Gebarste waterpyp voor Erickson se huis was die oorsaak vir dié helse ontploffing.

“Die water het meters in die lug gespuit en het geweldige skade aan my huis aangerig. My tuin en huis was heeltemal onder water,” het ’n ontstoke Erickson gesê.

Erickson, voorsitter van die Wonderboompoort sektor 1 Mayville/WBS-gemeenskapspolisëringsforum, het sy dankbaarheid teenoor alle sektorlede en inwoners wat hom vir ure lank gehelp het om die gemors skoon te kry, uitgespreek.

“Almal het gehelp om slote te grawe om die water van my huis af weg te lei. Hulle het selfs reinigingsmiddels gebring en ingespring om te help skoonmaak. Ek is dankbaar vir almal se hulp,” het hy gesê.

Volgens Erickson het hy reeds verlede Sondag die waterlek onder die Tshwane-metro se aandag gebring.

Hy het gesê hy gaan die saak nie daar laat nie en het reeds regsadvies ingewin om die metro aanspreeklik te hou vir die skade wat aan sy eiendom aangerig is.

“My meubes is beskadig en selfs ons voorstoep se plaveisel het gesak weens die watervloei. Dit is onaanvaarbaar.”

Maar dis nie net Erickson wat ’n stel met die metro afgetrap nie, Abie Fourie van Waverley het ook ‘n probleem met die metro.

Fourie ry vir die afgelope vyf maande van Waverley na Jan Niemandpark, maar hierdie rit sluit ‘n reis seur ‘n rivier van riool in.

Volgens Fourie spruit die probleem uit die diefstal van mangatdeksels op die hoek van Klipspruit- en Henningstraat.

Alhoewel inwoners en sakeondernemings die diefstal en rioolprobleem glo verskeie kere by die metro aangemeld het, is daar steeds geen lig aan die einde van dié grillige tonnel nie, sê hy.

“Sekere tye van die dag stroom die riool die pad af en op ander dae lê die menslike ontlasting en toiletpapier oor die hele pad. Dit is ’n groot probleem vir ons,” het Fourie gesê.

Die metro het na verskeie navrae nog geen terugvoer verskaf nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button