Local newsMunicipalNews

Metro se eiendomsbelasting glo onwettig

Metro kan belasting wysig sonder insette van grondeienaars volgens Afriforum

Die Tshwane-metro se eiendomsbelasting verordeninge wat enkele maande gelede ingestel is, is volgens die burgerregte-organisasie AfriForum ongrondwetlik en mag nie afgedwing word nie.

Met dit in die visier, het die burgerregte-organisasie ‘n veldtog van stapel gestuur van: ‘Betaal jy te veel eiendomsbelasting?’ wat daarop gemik is om die grondwetlikheid van die munisipaliteit se eiendomsbelastingverordeninge te bevraagteken.

Volgens AfriForum voldoen dié verordeninge nie aan die wetlike vereistes nie en mag dit nie afgedwing word nie.

“Wetgewing is daar om te verseker dat die regte en belange van die gemeenskap beskerm word,” het Leandri Streit, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Noord, gesê.

“Daar is sekere stappe en prosesse wat gevolg moet word indien wetgewing gewysig moet word. Dié prosesse is juis ingestel om te verseker dat die gemeenskap se belange beskerm word, maar die metro probeer om hierdie verantwoordelikheid te omseil deur in hul verordeninge te verwys na die stad se beleid rakende eiendomsbelasting,’’ het sy gesê.

Sy het daarop gewys dat dit maklik is om munisipale beleid te wysig.

”Dit kan op ’n raadsvergadering gebeur met ‘n meerderheidstem. Dit beteken dat daar besluite geneem kan word wat die gemeenskap regstreeks raak, sonder dat die betrokkenes daarvan in kennis gestel word. AfriForum wil so ‘n situasie voorkom, en eis dat daar regsekerheid moet wees,” het sy gesê.

Volgens Streit is daar ‘n verdere probleem met die metro se beleid en verordeninge rakende eiendomsbelasting, Sy het gesê dat daar volgens die riglyne kortings daarin geïnkorporeer moet wees en dit iets is wat die metro geïgnoreer.

”Daar is nou geen sekerheid oor die kortings nie. Die metro kan nou eensydig almal se kortings kanselleer en dan het die gemeenskap geen regsbasis om daarop aan te dring nie. AfriForum het ’n brief aan die metro gestuur om hulle bewus te maak van die probleem, maar tot nog toe geen terugvoering daaromtrent ontvang nie. Ons maak nou bykomende inligting bymekaar en gaan die howe nader om die metro te verplig om aandag hieraan te gee,” het sy gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button