Inwoner moeg vir Tshwane-metro
Inwoner van Mountain View is moedeloos oor die Tshwane-metro se swak dienslewering nadat sy vir twee dae sonder krag sit.
‘n Inwoner van Mountain View sit reeds die afgelope twee dae sonder krag nadat die Tshwane-metro glo ‘n foutiewe stroombreker by haar huis geïnstalleer het.
Volgens Richelle Steenberg, word die kragtoevoer elke keer by die paal buite haar huis afgesny.
“Die metro is die enigste mense wat die fout kan kom regmaak maar die skade is reeds gedoen. ‘n Tegnikus het vasgestel dat ons hele verspreidingsbord (distribution board) vervang sal moet word en ons moet al ons gevriesde vleis en kos wat sleg geword het net so weggooi,” het sy gesê.
Steenberg is glad nie gelukkig oor die diens van die metro.
“Ons kan nie in warm water bad nie, ons kan nie kos maak nie, niks. Ons is moedeloos. Die metro se dienslewering is swak.”
Steenberg het aan Rekord vertel dat ‘n tegnikus van die metro Dinsdag by hulle was en toe het hy vir hulle gesê dat hy ‘n nuwe stroombreker by die depot gaan haal, dan sal hy terug wees. Ons wag steeds op hom.
“Die oproepsentrumagente is onbevoeg om te help, al wat hulle sê is ‘geen kommentaar’,” het sy gesê.
Sy het ook genoem dat sy in gesprek met haar prokureur oor die probleem is.
“My prokureur het my aangeraai om skadevergoeding te eis teen die metro, en ons is besig daarmee en sal die dokumente oorhandig sodra die krag herstel is. Indien enige van ons elektriese toestelle beskadig is, soos geisers, sal ons dit ook eis.”
Steenberg het gesê sy hoop die krag sal herstel word omdat sou dit nie, sal hulle hul kinders na haar ma vir versorging moet neem.
Die metro het nie kommentaar gelewer teen die tyd dat die koerant drukkers toe is nie.
