Die inwoners van Wonderboom-Suid is weer in die donker gedompel nadat hulle kragkabels vir die soveelste keer gesteel is.
Dié keer het Vierdelaan se inwoners deurgeloop nadat hul kragkabels Dinsdag omstreeks 01:45 gesteel is. Die diewe het sulke groot skade aan die straatlige veroorsaak om by die kragkabels uit te kom dat die pale dwars oor ’n inwoners se oprit gelê het.
Johan Erickson, ’n besorgde inwoner, het gesê dat hierdie tipe misdade ’n algemene gebeurtenis in die omgewing is en dat die donkerte ook kan lei tot ander misdaad soos inbraak en diefstal.
“Kabeldiefstal is besig om ‘n herhaalde misdaad in die omgewing te raak en ek wil die gemeenskap aanmoedig om by hul gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) betrokke te raak om misdaad te help bekamp,” het hy gesê.
Die kragonderbreking wat Dinsdagoggend se diefstal veroorsaak het, is volgens Erickson eers Dinsdagaand om 20:40 reggestel.
Adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van die Wonderboompoort-polisie, het bevestig dat daar verskeie kragkabeldiefstalle in hul polisiëringsgebied was. Die polisie het egter onlangs vier verdagtes vir kragkabeldiefstal in hegtenis geneem.
Rekord het ook vroeër berig dat raadslid Elmarie Linde gesê het dat hulle besig is om owerhede soos die Tshwane-metropolisie, buurtwagte en polisie bymekaar te kry om werkbare oplossings vir kabeldiefstal te bespreek.



