CrimeLocal newsNews

Man ontbloot hom aan kind

Man wys sy geslagsdele vir laerskoolleerling voordat hy wegjaag.

’n Tienjarige meisie is steeds in ‘n toestand van skok nadat ’n jong man sy geslagsdele Vrydagmiddag aan haar ontbloot het.

Cheri Theron, die ma en ’n Wonderboom-Suid-inwoner, het gesê haar bloed het gekook nadat sy ’n histeriese oproep van haar huishulp ontvang het.

“Dit is die vieslikste ding wat iemand kan doen. My dogter het so erg gehuil nadat die vent homself aan haar ontbloot het,” het ’n ontstoke Theron gesê.

Die meisie was buite in die erf toe die man aan die oorkant van die pad gestop het. “Hy het aanvanklik verby haar gery, gestop en omgedraai. Hy het uit sy wit bakkie geklim, sy broek afgetrek en sy geslagsdele gewys.”

Die huishulp het die insident aanskou en op die man gegil. Hy het dadelik in sy bakkie gespring en weggejaag.

“Ek werk in Pretoria-Noord en het ons motorbestuurder gestuur om my kind by die huis op te laai omdat die skole gesluit het. Dit is hoekom sy buite die erf gewag het. Gelukkig het my huishulp saam met haar gewag en die vent weggejaag,” het sy gesê.

“Ek kan nie glo dat iemand ’n kind se reinheid op só ’n manier kan steel nie. Dit is verregaande,” het sy gesê.

Sy maan ouers om hulle kinders teen vreemde mense te waarsku en ten alle tye op hul hoede te wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button