Kat met windbuks vermink
'n Vrou van Rooihuiskraal se kat is onlangs deur iemand se windbuks erg vermin.
’n Vrou van Roohuiskraal is die herrie in nadat een van haar twee katte sy oog verloor het na hy met ’n windbuks geskiet is.
Elka Etsebeth is getraumatiseer toe sy Sondagmiddag haar kat, Spokie, in die huis gevind het met ’n stukkende oog.
“Daar was bloed orals en sy oog was uit. Ons het hom dadelik veearts toe gevat, waar hy opgeneem is. Twee dae later kon ons hom gaan haal en die veearts het gesê hy het ’n ongewoon groot windbukskoeël uit Spokie se oog gehaal,” het Etsebeth gesê.
Volgens Etsebeth is sy stomgeslaan oor wie so iets aan ’n dier kon doen.
“My katte loop nie rond nie, want albei is reggemaak en ons woon in ’n pypsteelerf. Ek het by die kafee in ons straat gesien daar is meer as drie ander katte wat in die area vermis is , so ’n mens weet ook nie wat van hulle geword het nie, maar een van ons bure se katte is ook met ‘n windbuks doodgeskiet ,” het Etsebeth gesê.
Korky Levanon van die DBV in Lyttelton het vir Rekord gesê dat hulle van al hoe meer gevalle hoor waar katte of geskiet, of vergiftig word.
“Mense moet onthou dat dié tipe gedrag as dieremishandeling beskou word . Ek wil eienaars aanraai om waaksaam te wees en hul diere in hul erf te hou,” het Levanon gesê.
Etsebeth het gesê dat sy ’n vermoede het wie vir die dade verantwoordelik is, maar dat sy tot dusver nog geen bewyse kon kry nie.
“Ons is nie die eerste mense wie se kat ernstig seergemaak is nie, maar niemand praat daaroor nie. Dit is nie reg nie en iemand moet iets hieraan doen.”
