CrimeLocal newsNews

Verdagte betaal polisieman om te ontsnap

Moordverdagte ontsnap nadat hy vermoedelik polisie omkoop.

Die polisie het bevestig dat ‘n gevaarlike misdadiger wat vir die moord op ‘n bejaarde egpaar gearresteer is en onlangs ontsnap het ‘n polisie-offisier omgekoop het om sy vryheid te bekom.

Nkomo Romeo Mathebula (33), ook bekend as ”Buster”, het in Mei, tydens ‘n ander saak waarvoor hy in die hof moes verskyn, uit die Ga-Rankuwa-landdroshof ontsnap.

Luitenant-kollonel Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die SAPS is tans besig om ‘n saak te ondersoek waarvolgens Buster vermoedelik geld aan ‘n polisieman gegee het om sy ontsnapping te verseker.

Buster was in November 2011 by ‘n aanval op ‘n bejaarde egpaar wat op ‘n kleinhoewe in Grootvlei gewoon het, betrokke.

Katrien (62) en Chris Jooste (63) was besig om vleis in Shoshanguve Blok A af te lewer toe vyf rowers hulle oorval en geskiet het.

Katrien was vermoedelik besig om ‘n faktuur uit te skryf toe die rowers Chris in die maag en haar daarna onder die linkerbors geskiet het.

Sy is op die toneel dood, terwyl Chris op pad na die Dr George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa dood is.

Buster, wat vermoedelik die sneller getrek het wat Chris se lewe geëis het, was die laaste van die vyf verdagtes wat in 2011 in verband met die moord in hegtenis geneem is.

Dlamini het gesê nog geen persoon is gearresteer of geskors in verband met die omkoopsaak nie.

“Die polisie is besig met interne ondersoeke om agter die kap van die byl te kom,” het Dlamini gesê.

‘n Betroubare bron wat anoniem wil bly, het gesê daar is ‘n video-opname wat wys hoe die polisieman geld by Buster in die hof ontvang voordat hy by die deur uitloop.

Hy het ook bevestig dat Buster steeds op vrye voet is en dat die polisie na hom soek.

Chyree Jooste (23), die kleinkind van die Jooste-egpaar, is na meer as drie jaar steeds baie hartseer oor die wreedaardige dood van haar grootours. “Ons is oortuig dat Buster eendag weer agter tralies sal wees,” het Chyree aan Rekord gesê.

Sy het bygevoeg dat dit onaanvaarbaar is dat die polisie nog nie stappe teen die persoon wat Buster laat wegkom het, gedoen het nie.

Die saak teen die ander verdagtes in die moordverhoor sal na verwagting in September in die Pretoria-hooggeregshof voortgesit word.

Enige persoon met inligting oor die ontsnapte kan adjudant-offisier Piet Moeti by 072-286-5404 of Crime Stop by 08600 10111 bel.

Vir meer inligting, klik hier.

Lees ook die.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button