Metro besige om gehawende pype te vervang
Die munisipaliteit beoog om in die volgende jaar die staal- en asbespype in die noorde van Pretoria met plastiese pype te vervang.
Die lekkende waterpype wat inwoners van die noorde van Pretoria die afgelope aantal jaar die herrie in gehad het, gaan dalk binnekort iets van die verlede wees.
Die asbes- en staalpype wat na jare se verweer en ouderdom stuk-stuk ingee, het inwoners in die noorde van Pretoria moedeloos.
Rina Prinsloo van Annlin het gesê haar gesin was moedeloos nadat ‘n waterpyp meer as agt keer in een blok gebars het. “Sodra een stuk van die pyp herstel word, dan is daar weer ‘n ander deel 3m verder aan wat probleme gee,” het sy gesê. “Op ‘n keer was ons vir twee dae sonder water.”
Prinsloo het bygevoeg dat die lekkende pype haar gesin verontrief. Die water word elke keer afgesny sodat die pype herstel kan word. Die munisipaliteit maak ook nie die gebied skoon waar hulle herstelwerk doen nie en dit skep ‘n seeroog.
Raadslid Ben Wannenburg het gesê dat dit normaal is dat pype wat jare gelede gelê is, begin om in te gee. “Die asbespype het ‘n maksimum leeftyd van 80 jaar en die staalpype maar 60 jaar. Inwoners moet asseblief geduldig wees terwyl die munisipaliteit die probleem met die tyd saam oplos,” het Wannenburg gesê.
Die pype wat vervalle is, sal deur die munisipaliteit met plastiese pype, wat 5cm dik is, vervang word. Die plastiese pype het ‘n leeftyd van meer as 100 jaar.
Wannenburg het gesê die munisipaliteit beplan om die pype in die probleemgebiede in die volgende jaar te vervang. “Die metro is reeds besig om die probleemgebiede te identifiseer en die pype te vervang.”
Pretoria se burgermeester, Kgosientso Ramokgopa, het in sy jaarlikse begrotingsrede gesê die munisipaliteit beoog om die volgende jaar R59.9 miljoen aan die herstel van waterpype te bestee.

