Waterkloof-vier ma na bewering afgepers
Valke ondersoek ’n saak van vermoedelike afpersing teenoor die ma van een van die sogenaamde Waterkloof-vier.

’n Ondersoek is onlangs deur die Valke van stapel gestuur nadat die ma van die Christoff Becker, vermoedelik deur een van haar seun se mede-gevangenes afgepers is.
Volgens berigte is Mariëtte Becker onlangs glo met R30 000 afgepers sodat verdere inkriminerende video’s van haar seun nie aan die lig sou kom nie.
Die man besit glo opnames wat Christoff, wat deel is van die sogenaamde Waterkloof-vier, in verdere moeilikheid by die departement van korrektiewe dienste sou bring.
Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het aan Rekord bevestig dat so ondersoek tans onderweg is. Hy het gesê dat die ondersoeke nog in ’n vroeë stadium is en dat nog geen verdere inligting oor die saak verskaf kan word nie.
Die vier mans, Becker, Frikkie Du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt, wat in 2007 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is nadat hulle as tieners in 2001 ‘n boemelaar doodgemaak het, is in Februarie op parool, minder as die helfte (vyf-en-‘n-halwe jaar) van hulle strafsitting, vrygelaat. Becker en Du Preez is weer op 16 Februarie in hegtenis geneem na aanleiding van ‘n video-opname wat uitgelek het waar hulle in die Kgosi Mampuru-gevangenis glo alkohol gedrink het.
Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag Becker se dringende aansoek om weer op parool vrygelaat te word, van die hand gewys. Regter Sulet Potteril het beslis dat die aansoek nie dringend is nie.
