CrimeLocal newsNews

Familie soek antwoorde na polisie seun glo doodskiet

Die familie van 'n tiener wat verlede week tydens 'n jaagtog doodgeskiet is, is steeds baie hartseer maar soek antwoorde oor sy dood.

Die familie van die 19-jarige seun wat onlangs tydens ‘n jaagtog deur die polisie doodgeskiet is, is steeds gebroke oor sy dood en soek antwoorde oor wat presies op dié dag plaasgevind het.

Charlene du Plessis, die ma van Levante, is steeds in rou nadat sy haar enigste seun aan die dood moes afstaan. “Dit is vir my baie moeilik om Levante se dood te verwerk. Hy was my steunpilaar en altyd vol grappe, maar hy was ook baie eerbiedig teenoor sy medemens,” het Du Plessis gesê.

Volgens du Plessis het een van Levante se vriende sy meegevoel kom betoon en met haar kom praat oor wat die dag van die kaping gebeur het. Volgens die vriend het Levante glo nie besef hy gaan deel wees van ‘n kaping toe hy saam met vriende in die voertuig geklim het nie. Levante was glo ook nie gewapen nie.

Rekord het vroeër berig dat Moses Dlamini van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat gesê het die polisie het ‘n gekaapte voertuig agternagesit toe alle hel skielik losgebars het. Skote is heen en weer tussen die polisie en die vermeende kapers gevuur en Levante is in die voorval noodlottig gewond.

“Drie van die verdagtes het in ’n wegkomvoertuig gevlug terwyl die vierde een te voet gevlug het,” het Dlamini gesê.

Alhoewel Du Plessis probeer sin maak van die tragedie, sê sy dat haar seun nooit voorheen by enige soortgelyke misdrywe betrokke was nie.

“Hy was ‘n goeie mens en ek het geen probleme met hom gehad nie. Ek is so hartseer want op sy ouderdom was hy net besig om sy eie mens te begin word. Ons wil weet hoekom hy doodgeskiet is, want hy het nie eers ‘n wapen gehad nie,” het Du Plessis gesê.

Levante se kamer is steeds net soos hy dit gelaat het, met die kas en skoenrak wat hy die vorige Kersfees self vir sy verjaarsdag gebou het.

Volgens Du Plessis was hy uiters trots op die kas en skoenrak.

“Almal wat hom geken het, was mal oor hom en hy het almal wat ouer as hy was met respek bejeën. Ek wil die vriende wat hom by die daad betrek het, vergewe, maar ek wil ook weet wat werklik daardie dag gebeur het sodat ek berusting kan vind,” het Du Plessis gesê.

Lees meer hier.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button