Local newsMunicipalNews

Riooldam en -rivier in woonbuurt ontstel

Die eienaar van 'n erf wat voortdurend onder riool is, is raadop oor dié probleem.

‘n Man van Môregloed is raadop oor die rioolprobleme die afgelope sewe maande by die huis in Capital Park wat hy verhuur.

Louis Rabie sê hy het minstens een keer ‘n maand riool wat opstoot en dan oor die erf en soos ‘n rivier in die pad af stroom by die huis in Myburghstraat.

Dit gebeur glo wanneer die hoofriolering in Capital Park verstop en die riool dan op die laagste punt van dié pype – in Rabie se erf – oorloop.

“Dit is uiters ontstellend. Sedert Desember is dit ‘n maandelikse gebeurtenis. Ek kry gereeld oproepe van die huurder as dit gebeur. Dan kontak ek die Tshwane-munisipaliteit en dit neem hulle gewoonlik tussen twee en drie dae om die gemors op te ruim,” het ‘n moedelose Rabie gesê.

Volgens Rabie is die huurder, asook die bure, al moedeloos oor dié voortdurende probleem.

Hy voel dat die munisipaliteit ‘n permanente oplossing vir die probleem moet kry, eerder as om elke maand net die blokasie in die pype te kom verwyder.

Elma Nel, die raadslid van wyk 58, sê dié oorstromings is ‘n probleem wat nie net tot Rabie se erf beperk is nie, maar is ‘n gesondheidsrisiko vir die hele gemeenskap.

“Ek was tot dusver nie bewus van mnr. Rabie se probleem nie, maar daar is verskeie probleme in Capital Park van hierdie aard wat toegeskryf kan word aan onwettige aanbouings wat tot geblokte pype lei. Daar is ‘n rede waarom onwettige aanbouings ‘onwettig’ is,” het Nel gesê.

Volgens Nel gaan sy so gou as moontlik ‘n terrein-inspeksie by Rabie se huis reël sodat ‘n permanente oplossing vir die probleem gevind kan word.

Selby Bokaba, woordvoerder van die metro, het gesê dat hulle besig is om voorkomende instandhouding van die pype in die spesifieke gebied te versoek om die probleem te minimaliseer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button