CrimeNews

Valse profeet bedrieg en beroof

Valse profeet en sy volgeling bedrieg en beroof goedgelowige Moot-vrou.

Die slinkse slenter van ’n valse profeet het daartoe gelei dat ’n vrou haar waardevolle besittings kwyt is.

Volgens luitenant Linda Jerling, woordvoerder van die Moot-polisie, het die ‘profeet’ en een van sy ‘volgelinge’ ’n vrou in die Moot-gebied genader en aangebied om vir haar te bid.

“Voordat hulle vir haar sou bid, het hulle haar versoek om haar selfoon, skootrekenaar en selfoon vir hulle te gee en water te gaan koop vir die bidritueel. Oortuig dat dit ’n ware profeet was, het sy die opdrag uitgevoer, maar haar besittings in die proses verloor,” het Jerling gesê.

Sy waarsku inwoners om onder geen omstandighede vir sulke foefies te val nie. “Moet nie jou besittings in vreemde mense se bewaring laat nie.”

Intussen is twee vermeende inbrekers, wat verlede Sondag in die plafon van ’n leë huis in Riviera weggekruip het, deur parate inwoners vasgetrek.

Volgens Klaas van der Kooi, eienaar van Kilnerpark-sekuriteit, het hulle inligting oor die tweerigtingradiostelsel ontvang dat inwoners die boewe vasgetrek het. “Ons het ons na die toneel gehaas en die twee verdagtes daar gevind.”

Die Moot-polisie is na die toneel ontbied en die vermeende inbrekers is in hegtenis geneem.

Volgens Jerling is daar ’n verdere 13 arrestasies oor die naweek uitgevoer vir onder meer die besit van gesteelde eiendom, bedrog, diefstal, aanranding en ‘n voetgangerbron van gevaar.

“Ons maan veral bejaardes om onder geen omstandighede hulle beursies of handsakke in ’n inkopiestrollie of mandjie te laat nie. Hou jou belangrike besittings ten alle tye teen jou lyf om diefstal te vermy. Jou beursie of handsak kan in ’n oogwink verdwyn as jou aandag afgetrek word,” het Jerling gewaarsku.

Sy het gesê daar is ook deesdae ’n tendens vir goedgelowige inwoners om hulp van vreemdelinge by kitsbanke te aanvaar en blindelings hul PIN-nommer vir die persoon te gee. “Vra eerder iemand wat jy persoonlik ken om jou by ’n kitsbank te help,” het Jerling gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button