Waterlek na vier maande nie herstel
'n Waterlek in Kilnerpark is na vier maande nog nie deur die Tshwane-munisipaliteit herstel nie.
Moedelose inwoners van Kilnerpark sit met hulle hande in hul hare oor ‘n waterlek in dié gebied wat glo al vir die laaste vier maande ‘n probleem is.
Johnny Pawson en sy vrou Marietjie is al raadop nadat verskeie poging om vir Tshwane-munisipaliteit in kennis te stel van die probleem op dowe ore geval het.
Volgens Johnny is die waterlek onder die teer op die hoek van Rayner- en Hastiestrate, voor ‘n leë erf, dus kan val dit in die Tshwane-munisipaliteit se jurisdiksie.
“Ons betaal mos belasting vir die soort probleme, maar nadat ons verskeie kere vir Tshwane-munisipaliteit geskakel het om die lek te kom herstel het niemand nog opgedaag nie,” het Johnny gesê.
Roelof Fourie, raadslid van wyk 84, het gesê hy streef daarna om dié soort probleme onder die aandag van die regte mense te hou.
“Daar is heelwat herstel en instandhouding oor die lengte en breedte van die stad wat in die laaste paar maande van die finansiële jaar as gevolg van ‘n gebrek aan fondse nie gedoen kon word nie en dié waterlek is ‘n spesifieke voorbeeld hiervan. Dit wil voorkom asof die onderskeie departemente vinnig besig is om in te haal,” het Fourie gesê.
Volgens Johnny is die waterlek nie net ‘n probleem oor die water wat gemors word nie, maar ook omdat dit op ‘n draai in die pad is en ‘n ongeluk kan veroorsaak indien ‘n motor op die water gly.
Fourie maan inwoners om soortgelyke probleme te rapporteer en sê dat verwysingsnommers raadslede help om om probleme vinniger op te los.
Die Tshwane-munisipaliteit was nie teen spertyd beskikbaar vir kommentaar nie.


