Brandende kragkabels veroorsaak drama
Brandende kragkabels sorg dat straat vir ure in donker gedompel word.

’n Gedeelte van Valhalla was Maandagaand in duister gehul nadat kragkabels weens ’n kortsluiting aan die brand geslaan het.
Raadslid Ina Strijdom sê dit het omstreeks 18:30 in Vikingweg gebeur.
“Niemand is beseer nie, maar voorsorgmaatreëls is getref om ‘n herhaling te verhoed. Geen misdaad word vermoed nie. Dit was net ‘n kortsluiting,” het sy gesê.
Strijdom is dadelik oor die brand ingelig.
Die brandweer asook die elektriese-afdeling van die Tshwane-metro is ontbied.
“Die krag was by meeste omliggende huise af, maar vir veiligheidsdoeleindes het die metro die hooftoeverkrag afgeskakel. Die krag was weer teen 03:00 op Dinsdagoggend ten volle herstel,” het Strijdom gesê.
Sy het alle betrokkenes vir hul bystand bedank.



