Polisie soek inligting nà gewapende roof
Die polisie soek na inligting rakende ’n gewapende roof by North Park Mall in Pretoria-Noord.
Die polisie soek na enige inligting in verband met ‘n gewapende roof wat Dinsdagmiddag by ‘n bekende winkelsentrum in Pretoria-Noord plaasgevind het.
Adjudant-offisier, Matthews Nkoadi, woordvoerder vir die polisie doen ‘n beroep op enige ooggetuies of mense wat inligting oor die roof het wat by die North Park Mall plaasgevind het.
Nkoadi het bevestig dat ‘n polisiebeampte van die georganiseerde misdaadeenheid, wat van diens af was, gedurende die rooftog in sy linkerbeen geskiet is. Hy is onmiddelik na die naaste hospitaal geneem.
Volgens Nkoadi wou een van die sewe rowers ‘n sekuriteitsbeampte skiet maar die koeël het hom gemis en die polisieman getref.
Nkoadi het gesê die mans het haelgewere en gewere by hulle gehad.
Hy het ook gesê hulle het na die roof in ‘n wit enkelkajuitbakkie gevlug.
Nkoadi het gesê ‘n saak van gewapende roof is by die Pretoria-Noord-polisiestasie aanhangig gemaak. Hy het gesê die polisie is tans besig met ondersoeke.
Mayville Mall-winkelsentrum is verlede Donderdagmiddag óók deur ses gewapende mans beroof. Daar word vermoed dat dit dieselfde rowers is wat North Park Mall geteiken het. Die rowers het die Mayville Vodacom Chatz-winkel beroof en ‘n lid van die publiek geskiet. Hy is lig in die been gewond terwyl ‘n ander lid van die publiek oor die kop met ‘n pistool geslaan is.
Laat anonieme wenke oor die rooftog by die polisie se misdaadlyn.
Bel: 086-001-0111 of SMS: 32211.
Lees ook:
Jaagtog na gewapende roof (Aksiebelaaide videoopname van die polisie wat jaag na toneel)
Een gewond ná gewapende rooftog by winkelsentrum
