
Telkom se winkel in Centurion Mall is Dinsdag beroof — vermoedelik deur dieselfde bende wat onlangs op die North Park Mall-winkelsentrum toegeslaan het.
Polisiewoordvoerder Sersant Asnath Malatsi sê gewapende rowers het die Telkom-winkel omstreeks 18:00 binnegestorm en sowat R1, 2-miljoen se waardevolle besittings geroof.
Niemand is beseer nie.
Theo Petzer, operasionele bestuurder van MonitorNet, sê sy reaksie-voertuie het ‘n noodoproep deur die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sektor Lyttelton radio gekry. “Ons het drie voertuie na die winkelsentrum ontbied, maar die rooftog was reeds uitgevoer. Twee voertuie het van die toneel gevlug en daar was moontlik ses tot sewe rowers betrokke.”
Die verdagtes is steeds op vrye voet en die polisie ondersoek die moontlikheid dat die rowers deel is van ‘n bende is wat winkelsentrums teiken.
Ses gewapende rowers het vroeër die maand op die Vodacom Chatz-winkel in die Mayville Mall-winkelsentrum toegeslaan. ’n Lid van die publiek is in die been gewond terwyl die eienaar van die winkel oor die kop met ’n vuurwapen geslaan is.
’n Soorgelyke rooftog het onlangs by die North Park Mall-winkelsentrum plaasgevind. ’n GPF-lid is tydens dié rooftog in die been geskiet.
Niemand is nog in verband met die rooftogte in hegtenis geneem nie.
Lees ook: Drie rooftogte in één week by winkelsentrum
Een gewond ná gewapende rooftog by winkelsentrum
Rowers op vrye voet ná rooftog
Polisie soek inligting nà gewapende roof
