Motordiefstal in Moot veroorsaak kopseer
Motordiefstal in die Moot-omgewing skep bekommernis.
Motordiefstal en diefstal vanuit motorvoertuie het ‘n kopseer begin raak in die Moot-omgewing.
Luitenant Linda Jerling, woordvoerder van die Moot-polisie, is veral bekommerd oor die Wonderboom-Suid omgewing. “Ek weet nie hoe om dit duideliker te stel dat mense hulle waardevolle besittings uit hul voertuie moet verwyder nie. Parkeer jou voertuig op ’n veilige plek sodat motordiefstal verhoed kan word,” het Jerling gemaan.
Jerling het gesê daar is steeds motoriste wat hul skootrekenaars, geld, selfone en ander waardevolle items in die voertuig los.
“Selfs al is jou voertuig agter geslote hekke in jou erf, maak seker dat enige waardevolle items uit die voertuig verwyder word.”
Corné van Zyl van Moot sektor 3 gemeenskapspolisëringsarea (GPF) het gesê ten spyte van waarskuwings wat al op die gemeenskapsradio’s uitgesaai is en op sosiale media gepubliseer is, laat mense nog steeds waardevolle items oop en bloot in hulle voertuie wanneer hulle iewers parkeer.
Sy het gesê items wat in die voertuig rond lê is ’n uitnodiging vir diewe om in te breek.
Volgens Van Zyl is kom GPF patrollielede, polisielede en motorwagte steeds af op oop motordeure en vensters in parkeergebiede. “Maak seker dat jou voertuig behoorlik gesluit is voordat dit alleen gelaat word. Moenie op ’n sypaadjie parker nie. Dit neem ’n motordief slegs enkele minute om ‘n voertuig of waardevolle items binne ’n voertuig te steel,” het sy gemaan.
