Tennisafrigter oorleef marteling in bos (Waarskuwing- grafiese beelde)
'n Tennisafrigter het uit die kloue van 17 skurke ontsnap ná hulle hom gemartel en beroof het.

‘n Tennisafrigter by die Hoërskool Waterkloof het Donderdag uit 17 skurke se kloue ontsnap nadat hy drie uur lank in ‘n bos naby Mamelodi aan ‘n boom vasgebind en erg gemartel is.
Gerrie Dippenaar (50), ‘n pa van vyf in Monumentpark, se uitstappie om sy rybewys in Rayton te hernu het in ‘n nagmerrie ontaard toe hy omtreeks 13:30 langs die Bronkhorstspruitpad stilhou.
“Ek kon nie ‘n badkamer by die lisensiekantoor kry nie en toe die nood te groot raak, het ek besluit om agter ‘n bos te urineer. ‘n Man het ‘n pistool teen my kop gedruk en gewaarsku dat hy my gaan skiet as ek sou beweeg of praat,” vertel Dippenaar.
“Ek het aspris my sleutels uit my regterhand laat hang sodat hy dit kon sien en my bakkie vat, maar dit was duidelik nie wat hy wou gehad het nie.”
Dippenaar moes saam met die man in die bakkie klim en hulle het met grondpaadjies al dieper die bos ingery.
“Sewentien mans met vuurwapens, messe en balaklavas het ons ingewag en ek is my beveel om by hulle stil te hou,” sê Dippenaar.
Die mans het Dippenaar uit sy bakkie gepluk, sy hande met skoenveters vasgebind en hom begin martel. “Ek moes in ‘n stadium bewusteloos geraak het want ek kan nie onthou hoe ek sommige van my wonde, soos die sny aan my gesig, opgedoen het nie.”
Vier van die skurke het hom nog dieper die bos ingelei, op sy knieë gedwing en sy arms met draad aan ‘n boom vasgebind. Die ander het met sy bakkie na ‘n kitsbank gery en al sy geld uit sy rekening getrek.
“Ek kon die haat in hulle oë sien. Dit het gelyk of hulle kwaad is vir my, maar ek het nie geweet hoekom nie,” het Dippenaar gesê.
Hy het gepoog om die mans rustig te maak deur vir hulle te sê hy is nie kwaad nie en dat hy hulle “situasie” verstaan. “My pa, ‘n oud-polisieman, het altyd vir my gesê jou mond is jou magtigste wapen. Ek het geweet ek moes my woorde gebruik om hulle rustig te maak sodat hulle my nie doodmaak nie.”
Die mans het sy bankbesonderhede en selfoon se wagwoord gevra. Een het gesukkel om die wagwoord in te sleutel en het voor Dippenaar gaan staan en uit woede ‘n skoot naby sy kop afgevuur.
“Ek het oorweeg om vir hulle te sê hulle moet my eerder in die bors as in die gesig skiet. Ek wou nie hê my kinders (tussen die ouderdomme van 11 en 25) moes die wond aan my gesig sien as ek in my doodkis lê nie,” het Dippenaar vertel.
“Hulle het my daarvan beskuldig dat ek speletjies met hulle speel en een het my broek afgetrek, ‘n mes uitgepluk en vir my gesê hy kan óók speletjies speel.”
Dippenaar het kliphard gebid dat die Here hom nie alleen moet los nie. “Terwyl ek gebid het, het een van die mans vir my gevra of ek in die Here glo. Toe ek ja antwoord het hy my gevra hoekom dié dinge dan met ‘n Christen gebeur. Ek het vir hom gesê die duiwel loop ook rond en doen slegte goed, maar dat ek in die Here bly glo.”
Hy het besluit hy moet ontsnap voordat die ander mans met sy bakkie sou terugkeer. “My mond het baie droog geraak en ek het gesukkel om asem te kry. Toe een my vra wat aangaan het ek gelieg dat ek hartprobleme het. Ek het gevra of ek kon opstaan sodat ek beter bloedvloei kon kry en het die ander gevra om vir my water gaan haal.
Terwyl Dippenaar geluide gemaak het asof hy doodgaan, het hy sy hande agter sy rug losgewoel. “Toe die een wegkyk, het ek hom van agter op die oor geslaan. Hy het soos ‘n standbeeld geval,” sê Dippenaar.
“Ek het besef dit was my kans om weg te kom. Hulle het skote langs my afgevuur en ek het gedink hulle moet my maar eerder skiet terwyl ek hardloop as wat hulle my skiet terwyl ek stilstaan.”
Dippenaar het na in die rigting van die pad is gehardloop en op sy bakkie iewers in die veld afgekom. “Die deur het oopgestaan en ek was bang dat hulle my sou inwag. Maar toe ek naderkom, het ek gesien die sleutels is nog in die skakelaar. Die Here het voorsien. Ek het ingespring en weggejaag.”
Dippenaar het drie uur later, net voor dit skemer sou raak, by die Hoërskool Waterkloof opgedaag om sy vrou te bel om hulp.
Hulle is na die hospitaal waar Dippenaar vir sy diep gesigwond behandel is. Hy moes 15 steke kry. Sy lyf was ook vol dorings en kneusplekke. Hy het selfs bloukolle onder sy voete gehad.
“Ek is net dankbaar ek het nie permanente skade opgedoen wat my werk sou beïnvloed nie,” het Dippenaar gesê.
Hy het ‘n klag by die Lyttleton-polisie gelê.




