
In ‘n derde motorkaping in vier dae in die ooste van Pretoria het twee rowers ‘n 39-jarige vrou Vrydagaand in haar motorhuis in Wingatepark oorval en haar motor gekaap.
Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Colette Weilbach, is die vrou net voor 18:00 deur die rowers oorval terwyl sy haar voertuig in haar motorhuis in Oudtshoornstraat geparkeer het.
“Hulle het ‘n vuurwapen op haar gerig, haar motorsleutels afgeneem en met haar voertuig gevlug,” het Weilbach gesê.
Volgens die Facebook-blad Crime Lookout is ‘n silwer Volkswagen Polo gesteel.
Die Lyttleton-polisie ondersoek die saak en niemand was teen Saterdag in hegtenis geneem nie.
Die polisie is ook op soek na vier kapers wat nóg ’n vrou Woensdagaand in ‘n aangrensende woonbuurt aangeval en haar motor gekaap het.
Volgens adjudant-offisier Hero Ghumbu, polisiewoordvoerder, is die vrou in haar oprit in Gymnasiumstraat in Elarduspark deur gewapende mans oorrompel.
“Die kapers het in hul wit Volkswagen Citi Golf agter haar silwer BMW3 stilgehou. Hulle het uitgespring en ’n vuurwapen op haar gerig,” het Ghumbu gesê.
Die vrou is uit haar motor gedwing waarna die kapers in die voertuie gevlug het.
Die polisie, Bull Security en GPF-lede is dadelik na die toneel ontbied en die BMW3 is later in Tembisa opgespoor.
Die Lyttelton-polisie ondersoek ‘n saak van kaping en dit is nog onduidelik of enigiemand al in hegtenis geneem is.
Nóg ‘n kaping het vroeg Dinsdagoggend op die Delmaspad (die hoofweg tussen Wingate- en Elarduspark) gebeur toe ‘n vragmotor, wat sigarette vervoer, by ‘n vulstasie naby die Garstkloof-stortingsterrein deur twee gewapende rowers ingewag was.
Die Lyttleton Sektor 4 GPF het inwoners op hul Facebook-blad gemaan om waaksaam te wees.
Vir meer nuus, volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.
