CrimeLocal newsNews

Metaaldiewe op heterdaad betrap

‘n Sekuriteitsmaatskappy het Saterdag twee vermeende metaaldiewe op heterdaad betrap.

Inwoners van Centurion is verlig nadat ‘n sekuriteitsmaatskappy Saterdag twee vermeende metaaldiewe by die nuwe Forest Hill-inkopiesentrum vasgetrek het.

Paul Gerber, hoofbestuurder by MonitorNet-sekuriteitsmaatskappy, het gesê twee reaksie-offisiere, Nick Christostomou en Rick Coutsoulis, het gedurende ‘n roetine patrollie twee verdagtes opgemerk wat sukkelend ‘n swaar voorwerp gedra het.

“Hulle het die verdagtes gekonfronteer en besef dat die voorwerp ‘n onderdeel van ‘n konstruksievoertuig was.

“Ná ondervraging is daar vasgestel dit ‘n onderdeel was van die konstruksieterrein by dié inkopiesentrum.,” het Gerber gesê.

Die vermeende diewe is aan die Olievenhoutbosch-polisiestasie oorhandig waar hulle tans aangehou word.

Volgens Gerber word tweedehandse metaalhandelaars gereeld gereguleer en hoewel die polisie gereeld inspeksies uitvoer, raak die probleem eenvoudig net groter en groter.

Groot dele van Centurion het die afgelope tyd swaar gebuk gegaan onder metaaldiewe wat kragkabels steel en Gerber meen dit is opmerklik hoe diefstal van allerlei metaalvoorwerpe aan die toeneem is.

“Relings van brûe verdwyn, palisadeheinings word afgesaag en eienaars van fabrieke in nywerheidsgebiede in Hennopspark, Sunderlandrif en Lyttelton kan nie waag om metaalrakke of ander voorwerpe buite hul geboue te los nie,” het Gerber gesê.

“Die geldelike implikasie wat hierdie diefstalle inhou is astronomies.”

Gerber het bygevoeg dat MonitorNet op ‘n keer ‘n man vir diefstal van metaal in hegtenis geneem het en dié het glo erken dat hy aan die Nyope-dwelmmiddel (‘n mengsel van dagga en heroïene) verslaaf is, en dat die diefstal en verkoop van metaal sy gewoonte onderhou.

“MonitorNet onderneem om alles moontlik te doen om die voortslepende tendens hok te slaan en alle inligting wat ontvang word met die polisie te deel,” het Gerber gesê.

Vir meer nuusbrokkies, volg ons op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.

Lees ook: Rooihuiskraal left in the dark

Power outage on R55

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button