Twee in hof oor vakansieslenter wat lei tot polisieman se dood
Die hofsaak oor die drie verdagtes wat aangekla word vir bedrog, waarvan een ook aangekla word vir moord teenoor 'n offisier, is Maandagoggend met 'n week uitgestel.
Twee mense wat gekoppel is aan die skietdood van adjudant-offisier Ben Strydom verlede week het Maandag in die Pretoria-Noord landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog.
‘n Derde verdagte, die man wat Strydom na bewering geskiet het, kon nie verskyn nie omdat hy nog onder bewaking in die hospitaal is na ‘n selfmoord-poging.
Renette Wright (47) en Solome Kloppers (54) sal aanstaande Dinsdag weer in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding.
Strydom is verlede Donderdag in Montanapark doodgeskiet terwyl hy probeer het om ‘n man weens bedrog in hegtenis te neem. Sy aanvaller het homself daarna in die kop geskiet. Hy kon nie die saak bywoon nie omdat hy steeds in die hoësorgeenheid van Steve Biko akademisiese hospitaal behandel word. Die man word aangekla van moord en bedrog.
‘n Dokter van die hospitaal het ‘n brief aan landdros Pierre Wessels gerig wat bevestig dat die man in die hospitaal behandel word vir ‘n ernstige kopbeserings. Die brief het bygevoeg daar is geen aanduiding teen wanneer hy gesond genoeg sal wees om in die hof te verskyn nie.
Wessels het gesê die saak teen die man is uitgestel totdat sy gesondheid verbeter het. Tot dan sal hy onder streng polisie bewaking by die hospitaal bly. Renette en Solome sal ook tot volgende Maandag in aanhouding bly waar hulle borgaansoek by die Pretoria-Noord landdroshof aangehoor sal word.
Strydom, ‘n geliefde offisier by die Sinoville-polisie, is in die bolyf geskiet toe hy hom omstreeks 10:00 by sy huis in Montanapark in hegtenis wou neem.
Dié vermeende bedrieer het in sy eie motor van die toneel gevlug en homself in die kop geskiet toe die polisie hom sowat 6km verder op die Moloto-pad wou voorkeer.
Renette en Kloppers is Donderdagmiddag in hegtenis geneem.
Die paartjie het glo ’n toerisme-onderneming bedryf wat veral bejaardes bedrieg het. Hulle het glo deposito’s van verskeie vakansiegangers geneem, die vakansie gekanselleer en dan met die slagoffers se geld verdwyn.
Volgens die klagstaat in die hof, wou Strydom ‘n man in verband met die bedrog in hegtenis neem nadat hy vermoedelik R26 000 gesteel het van ‘n persoon wat ‘n toer na Namibië by sy onderneming bespreek het.
Intussen is die gemeenskap in rou gedompel oor Strydom se dood.
Sowat 200 voertuie en 40 motorfietse het Saterdag in ‘n konvooi deur die strate van Montana en Sinoville gery.
Hulle het ook verby Alfonsostraat in Montanapark, waar Strydom Donderdagoggend deur die vermeende bedrieër in die bolyf geskiet is, gery waarna sy vrou, Madelein (42) en hul seun, Dreyden (13) die gemeenskap bedank het vir hulle bystand.
Strydom se begrafnis vind op 31 Julie om 11:00 vanuit die Lewende Woord-kerk in Rooibosstraat, Montana, plaas.
Vir meer nuus, volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.
Lees ook:
Gemeenskap bring hulde aan polisieman
Gevalle polisieman ‘n “goeie pa, vriend en kollega”
Polisiebeampte dood en ‘n ander kritiek ná skietvoorval





