Kompos slenter in Waverley
Die kansvatters wat kompos verkoop het aan inwoners in die Ooste van Pretoria geteiken het is onlangs in Waverley gewaar.
Die kompos-bende wat mense in Lynnwood Glen, Menlopark en Faerie Glen met ‘n slenter gevang het, is onlangs in Waverley opgemerk.
Die skelms ‘n man en ‘n paar tuinwerkers, strooi kompos op jou erf en vra dan betaling vir heelwat meer sakke (tot sowat 35) as wat hulle gebruik het.
Tanyah de Beer van Waverley het foto’s van die skuldiges geneem terwyl hulle Woensdag kompos op ‘n buurman se sypaadjie gestrooi het.
“Hulle ry in ‘n ongemerkte bakkie. Ek het voorheen in Silverton gebly en ons is teen hulle gewaarsku. Mense moet bewus wees van hierdie tipe slenter,” het De Beer gesê.
‘n Man van Weavind Park wat anoniem wil bly is ook sowat ‘n week gelede deur dieselfde mense genader.
“Hulle wou vir my kompos aanbied maar ek het nee gesê. Toe hulle my bure begin pla, het ek ‘n foto van die Bantam bakkie geneem. Die man het aggressief geraak en gedreig om my by die polisie te aan te meld. Toe ek vir hom sê dat ek ook met die polisie gaan praat ,het hulle in die bakkie geklim en weggery,” het die man gesê.
Rekord het vroeër berig dat dieselfde mense twee vroue in Lynnwood Glen en Faerie Glen met dieselfde slenter gevang het.
‘n Inwoner van Menlopark, Roy Barclay van Menlopark het ook in die strik getrap. Die mans het volgehou dat hulle 30 sakke kompos op sy gras leeggemaak het, terwyl Barclay oortuig was dat daar nie meer as vyf sakke gebruik is nie. Die mans het glo op meer as R2 000 aangedring en hom gedreig toe hy weier om die volle bedrag te betaal.
Kolonel Gawie Alberts, woordvoerder van die Villieria-polisiestasie, sê geen klagtes is nog oor die slenter ontvang nie, maar die polise is bewus daarvan.
Alberts maan inwoners om die naaste polisiestasie te skakel as hulle een van die verdagtes opmerk.
