CrimeLocal newsNews

Misdaad in ooste wek kommer

Misdaad in die ooste van Pretoria neem toe.

Dele van Wingate- en Elarduspark, aangrensende woonbuurte in die ooste van Pretoria, gaan die afgelope ruk swaar gebuk onder misdaad en in die meeste gevalle blyk dit veral vroue te wees wat deur misdadigers geteiken word.

In die mees onlangse geval, het twee rowers ‘n 39-jarige vrou Vrydagaand in haar motorhuis in Wingatepark oorval en haar motor gekaap.

Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Colette Weilbach, is die vrou net voor 18:00 deur die rowers oorval terwyl sy haar voertuig in haar motorhuis in Oudtshoornstraat parkeer het.

“Hulle het ‘n vuurwapen op haar gerig, haar motorsleutels afgeneem en met haar voertuig gevlug,” het Weilbach gesê.

Volgens die Facebook-blad Crime Lookout is ‘n silwer Volkswagen Polo gesteel.

Nóg ‘n vrou is Woensdagaand deur vier kapers in Elarduspark aangeval en van haar motor beroof.

Volgens adjudant-offisier Hero Ghumbu, polisiewoordvoerder, is die vrou in haar oprit in Gymnasiumstraat deur gewapende mans oorrompel.

“Die kapers het in hul wit Volkswagen Citi Golf agter haar silwer BMW3 stilgehou. Hulle het uitgespring en ‘n vuurwapen op haar gerig,” het Ghumbu gesê.

Die vrou is uit haar motor gedwing waarna die kapers in die voertuie gevlug het.

Die polisie, Bull Security en GPF-lede is na die toneel ontbied en die BMW3 is later in Tembisa opgespoor.

‘n Inwoner van Wingatepark, André Eras­mus, het gesê hy is bekommerd oor die skielike toename in misdaad in dié woonbuurt.

Sy vrou, Ilse, is voorverlede Sondagmiddag deur drie mans in ‘n silwer BMW oorval en beroof.

Volgens André het Ilse op die sypaadjie voor hul huis in Woodistraat stilgehou om inkopies uit die kattebak te laai toe die mans van ‘n teenoorgestelde rigting aangekom en stadig verbygery het.

“Sekondes daarna het hulle weer stilgehou en twee gewapende mans het uitgespring en gedreig hulle gaan ons dood­skiet,” vertel André.

Die rowers het die paartjie glo beveel om plat op die grond te gaan lê en Ilse se sleutels, horlosie, duur trouring en oorbelle gesteel.

“Ek het vir my negejarige dogtertjie geskree sy moet weghardloop, maar sy het uit skok gevries en ek het haar geroep om by my te kom lê.”

Die rowers is daarna saam met Ilse na die paartjie se slaapkamer waar hulle juwele ter waarde van sowat R100 000 gesteel het.

Hulle het ook van die sakkies met inko­pies uit die kattebak gesteel.

André het hulle agterna gesit maar die mans het weggekom.

Rekord het verneem dat rowers ook sowat twee weke gelede op ‘n huis in Vogelstraat in Wingatepark toegesak en ‘n huishulp en kind aangehou het.

Die Lyttleton-polisie kon nie uitwei nie.

In ‘n derde kaping in vier dae, was die teiken ‘n vragmotor wat sigarette vervoer het. Twee gewapende rowers het die voeruig vroeg Dinsdagoggend gekaap op die Delmaspad (die hoofweg tussen Wingate- en Elarduspark) by ‘n vulstasie naby die Garstkloof-stortingsterrein.

Die Lyttleton Sektor 4 GPF het inwoners ook op hul Facebook-blad gemaan om waaksaam te wees.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button