Brand by bekende laerskool
'n Brand is onlangs in die vroeë oggendure by 'n bekende laerskool in die Moot gestig.
Meer as R50 000 se skade is aangerig toe ‘n hoop bande in die vroeë oggendure van Maandag by Laerskool Queenswood aan die brand gesteek is.
Kilnerpark-sekuriteit was eerste op toneel toe die brand ongeveer 12:50 begin het en het die brandweer dadelik ontbied.
Volgens Klaas van der Kooi, woordvoerder van Kilnerpark-sekuriteit, is niemand oor die brand op die toneel vasgekeer nie.
“Daar is ‘n swart VW Golf naby die toneel opgemerk, maar ons het niemand in verband met die brand vasgekeer nie. Een van ons reaksievoertuie was binne minute na die brand begin het op toneel, so ons kon dadelik die brandweer ontbied en die brand stop. Ons is baie trots op die vinnige optrede van ons beamptes,” het Van der Kooi gesê.
Benewens 800 bande, het die skool se nuwe krieketnette van sowat R50 000 ook in die slag gebly.
Rico Ludick, die skoolhoof, sê dat hy geen idee het wie vir dié brand verantwoordelik kan wees nie.
“Ons is baie dankbaar dat die skoolgeboue nie skade opgedoen het nie, maar die krieketbaan se nette is vir ons ‘n groot verlies aangesien ons hulle einde verlede jaar vervang het. Die bande wat aan die brand gesteek is het ons altyd vir ons jaarlikse kaskarwedrenbaan gebruik,. Ons sal hulle ook moet vervang,” het Ludick gesê.
Teen die tyd dat kinders vir die skooldag begin opdaag het, het baie van die bande nog gesmeul en Ludick sê dat die skool spesiale reëlings getref het seker te maak niemand kom naby genoeg om seer te kry nie.
Ludick beoog om ‘n klag by die Villieria-polisiestasie aanhangig te maak.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
