CrimeNews

Bejaarde vertel van marteling op hoewe

Vier rowers wat Sondag 'n bejaarde man met 'n strykyster gebrand het, het boonop petrol in sy keel afgegooi en gedreig om hom aan die brand te steek.

Die bejaarde man wat Sondag op sy kleinhoewe in Tweedracht in die Boschkop-omgewing deur rowers gemartel en amper aan die brand gesteek was, is vasbeslote om terug huis toe te gaan sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

“Ek is nie bang vir hulle nie,” het Ponty Thuynsma (76) Woensdagoggend vanuit sy hospitaalbed in die hoësorgeenheid van die Wilgers-hospitaal gesê.

Hy is Sondagaand omstreeks 18:00 deur vier rowers aangerand en met ‘n vuurwarm strykyster gebrand. Hy is eers twaalf ure later deur sy huishulp gevind.

Die rowers het ‘n pistool in sy mond gedruk en petrol in sy keel afgegooi toe hy weier om te sê waar die kluis se sleutels was.

Tydens Rekord se besoek, het Thuynsma moeilik gepraat weens die brandwonde aan sy tong en lippe wat deur die petrol veroorsaak is. Daar was brandwonde van die strykyster aan sy potblou gesig en sy oë was byna toegeswel.

“Hulle het my ingewag terwyl ek vriende, wat die middag by my gekuier het, na die motorhek vergesel het. Toe ek minute later die huis binnestap, het hulle voor my gestaan,” het Thuynsma gesê.

Hulle het sy 12-jarige Boerboel, Molly, se rug gebreek en die hond moes later uitgesit word.

Thuynsma se gesig, ore, arm en voete was met ‘n strykyster gebrand terwyl hy hulpeloos met vasgebinde hande en voete op sy slaapkamervloer gelê het.

“Hulle het petrol oor my gegooi en gedreig om my aan die brand te steek as ek nie vir hulle sê waar die kluis se sleutels was nie. Maar ek het geweier om te praat en vir hulle gesê dat hulle in elk geval nie sou uitvind waar die sleutels is as ek dood is nie,” het Thuynsma gesê.

Hy vermoed die rowers het ná ‘n lang soektog eindelik sleutels na die groot kluis gekry, wat in ‘n kleiner een in sy hangkas versteek was. ‘n Handwapen en vier jaggewere is daaruit gesteel.

Hulle het ook waardevolle items in Thuynsma se bakke gelaai, maar kon dit vermoedelik nie aanskakel nie en het alles net daar gelos.

Volgens polisiewoordvoerder Kaptein Marissa van der Merwe het die mans te voet gevlug nadat iets hulle vermoedelik gesteur het.

Thuynsma is eers die volgende oggend gevind nadat sy huishulp om 06:00 vir werk opgedaag en nie by die huis kon ingaan nie.

Sy het Thuynsma se dogter gebel en dié het haar suster en swaer na die toneel ontbied waar Thuynsma steeds vasgebind op die vloer gelê het.

“Die polisie ondersoek die saak en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het Van der Merwe gesê.

Lees ook: Bejaarde met strykyster gemartel, hond se rug gebreek

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button