Diewe besteel skool in Queenswood
'n Laerskool in die Moot het onlangs sowat half-miljoen rand se skade gelei gedurende 'n inbraak.
Laerskool Nellie Swart in Queenswood het sowat ‘n halfmiljoen-rand se skade gelei toe diewe die skool se alarmstelsel ontkoppel en die kluis oopgebreek het, sê die skoolhoof, Piet Vermaak.
Hy sê die inbrekers het laat Dinsdagaand ‘n gat in die skool se dak gemaak om toegang tot die kantoor te kry.
Hier het hulle die alarmstelsel ontkoppel en deur die plafon in die kantoor gekom.
Sowat 40 rekenaar-tablette wat deur die departement van onderwys aan die skool geskenk is, is uit die kluis gesteel.
Nege ander rekenaars en al die elektroniese toerusting van die skool is ook weg.
“Een van ons deure is stukkend gebreek, die kluis is gebreek en hulle het toegang tot die kantoor gekry deur die dak se sinkplaat oop te breek. Net die herstel van die kantoor gaan ons baie moeite en geld kos,” het hy gesê.
Vemaak sê die skool beoog om sy sekuriteit op te knap.
Volgens Kaptein Coba Brits, woordvoerder van die Villieria-polisiestasie, het die diefstal bevestig en sê die inbraak word ondersoek.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.


