Die Valke probeer nog vasstel wat het geword van geld wat inwoners van Pretoria-Wes aan ‘n verhuring-swendelaar betaal het.
Woordvoerder Kaptein Paul Ramaloko sê die geld is in ‘n rekening betaal, maar was reeds onttrek teen die tyd dat die Valke die man vasgetrek het.
Hy was al die tyd agter tralies en het sy bedrogspul vanuit ‘n sel in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria bedryf.
“Ons weet wie die man agter die sindikaat is. Ons het ‘n selfoon en sim-kaart met dieselfde nommer wat op Junk Mail geadverteer is in sy sel gevind.”
Ramaloko sê die man het medepligtiges buite die tronk gehad. Die ondersoek om hulle aan die kaak te stel, duur voort.
Een van hulle slagoffers, Elmarie Piek van Pretoria-Noord, het R3 500 verloor.
“Ek het gereageer op ‘n advertensie in die Junk Mail vir ‘n huurhuis in Mountain View. Ek het die nommer gebel en met die man gepraat wat gesê hy is nie in Pretoria nie, maar ek moet R3 500 in sy rekening betaal om die huis te huur,” vertel Piek.
Sy sê dat die man was baie ordentlik oor die foon en het nie soos ‘n skelm geklink nie. Piek woon nou in Pretoria Noord.
“Ek het die geld betaal. Die man het vir my gesê ek kan nie na my nuwe blyplek gaan kyk nie omdat hy in ‘n hofsaak met die mense gewikkel is. Hy het my die adres gegee sodat ek kon verby ry. Die dag waarop ek kon intrek, het hy nie by die huis opgedaag om die sleutels te oorhandig nie,” sê Piek.
“Ek het hom probeer bel, maar tevergeefs. Ek het nooit weer van die man gehoor nie.”
Nog ‘n slagoffer, Hardes Lubbe, het R5 500 in die man se rekening betaal as deposito vir dieselfde huis wat Piek wou huur.
“Die man het vir my dieselfde storie vertel en gesê dat hy nie in Pretoria is nie, maar in die Kaap. Hy het ook vir my gesê ek kan nog nie die huis van binne sien nie omdat hy in ‘n hofsaak met die mense gewikkel is.” sê Lubbe.
“Ek het baie geld verloor. Ek het gehoor die man se rekening is geblok.”
‘n Vrou, wat anoniem wil bly, het aan Rekord gesê die man se assistent het haar genader om haar woning beskikbaar te stel as ‘n sogenaamde skouhuis in ruil vir ‘n deel van die slagoffer se deposito.
“Sy het my eenkeer gevra om my huis te gebruik as ‘n skouhuis maar ek het geweier.”
Ramaloka sê die departement van korrektiewe dienste het die Valke op die spoor van die swendelaar gesit.
Kommentaar van Junk Mail kon nie onmiddellik verkry word nie.
Vir meer nuus, ‘like’ Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.
