
‘n Bejaarde paartjie van Murrayfield se reaksie nadat hulle deur gewapende rowers oorval is het waarskynlik daartoe gelei dat gewapende rowers leehande op die vlug geslaan het.
Adam (80) en Christine (71) Willemse is Woensdagmiddag in hul huis in Gracelaan, Murrayfield oorval en aangerand.
Twee mans, gewapen met ‘n skroewedraaier, het omtreeks 13:00 in hul huis ingestorm en hulle gedreig. “Een van die mans het my probeer platduik en vasdruk sodat hulle my op die vloer kon vasbind, maar ek het nie toegelaat dat hulle my vaspen nie,” het Christine gesê.
Die mans het haar geweldadig rondgeruk en op ‘n stoel neergegooi. Hul aanvallers het ‘n kniekombersie en handoek oor die paartjie se gesigte gegooi in ‘n poging om hulle te blindoek.
“Adam is met ‘n reuse skroewedraaier aan sy gesig en kop gesteek. Hy is gelukkig sterk en het hard baklei.”
Volgens Christine het haar man ‘n naam uitgeskree sodat die mans moes dink daar was iemand anders in die huis, waarna hulle op die vlug geslaan het. Die voorval het sowat vyf minute geduur.
“Ek is seker hulle het nie verwag dat twee ou mense só ‘n geveg sou opsit nie,” het Christine gesê.
Hoewel Adam steke aan sy gesig en kop moes kry, het die paartjie nie ernstige beserings opgedoen nie.
“Ons het kneusplekke en is vandag baie styf, maar ons is dankbaar dat ons leef.”
Die voorval is by die Silverton-polisie aangemeld en die egpaar was vol lof vir die Murrayfield-buurtwag wat binne minute op hul noodroep gereageer het.
Vir meer nuus, volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.
