CrimeNews

Nog ‘n inwoner deur geslepe vrou bedrieg

Nog 'n inwoner van die Moot is onlangs bedrieg deur 'n vrou wat beweer sy soek dringend huishulp werk.

Skaars drie weke nadat ‘n bejaarde egpaar van East Lynne deur ‘n tydelike werker besteel is, het ‘n vrou van Eloffsdal in ‘n soortgelyke strik getrap.

Elzet Moller het gesê ‘n vrou het haar vir huishulp-werk gevra en vertel dat sy ‘n jong kind het om voor te sorg.

“Sy het gesê haar naam is Nicky en dat sy dringend werk nodig het. Ek het haar Saterdag 2 Augustus by my laat werk en omdat ek geen probleme met haar ondervind het nie, het ek haar gevra om Dinsdag weer te kom werk,” sê Moller.

Moller was Dinsdag nie by die huis toe die vrou gewerk het nie. Toe sy tuiskom, het sy met ‘n skok agtergekom dat die vrou haar huis deursoek het. Moller se huis was nie gesluit nie, die deure was net toegetrek.

Die vrou het teen daardie tyd spoorloos verdwyn.

“Ek was geskok om te vind sy het my hele huis deursoek. Sy het niks uitgepak nie, maar die laaie was deurmekaar gekrap, asof iemand haastig deur dit gesoek het. Twee ou selfone is uit een van die laaie gevat, maar verder is niks gesteel nie.”

Moller sê sy voel ongemaklik in haar eie huis en is bang dat die vrou dalk optree as waarnemer vir ander rowers.

Sy glo dat die vrou wat haar bedrieg het, is dieselfde een wat die bejaarde paartjie besteel het.

“Hierdie vrou het ‘n ander naam en selfoon nommer gebruik, maar ek glo vas dat dit dieselfde vrou is wat die bejaarde egpaar bedrieg het. Sy speel op jou gevoel en manipuleer jou om toegang tot jou huis te kry. Dit lyk ook vir my asof sy net geld en goed steel wat sy kan herverkoop,” sê Moller.

Rekord het vroeër berig dat ‘n vrou wat na haarself as ‘Lucy’ voorgestel het, ‘n bejaarde egpaar van East Lynne van sowat R 3 000 beroof het, toe hul dogter haar jammer gekry en werk gegee het.

Vir meer nuus,volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button