CrimeLocal newsNews

Boschkop-aanvallers nog soek

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die jongste kleinhoewe-aanval in die Boschkop-omgewing nie.

Die polisie is steeds op soek na vier gewapende mans wat die 76-jarige Ponty Thuynsma in ‘n vyfde aanval in die Boschkop-omgewing vanjaar aangeval en gemartel het.

“Die polisie ondersoek die saak en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het polisiewoordvoerder kaptein Marissa van der Merwe hierdie week gesê.

Thuynsma is al vir langer as ‘n week in Wilgers-hospitaal se hoësorgeenheid.

Hy word vir erge brandwonde behandel nadat die aanvallers petrol in sy keel afgegooi en hom met ‘n vuurwarm strykyster oor sy gesig en lyf gebrand het.

Sy arms en bene is vasgebind en hy is eers twaalf ure later deur sy huishulp op die hoewe gevind.

Dié aanval op Thuynsma kom skaars twee maande ná ‘n bejaarde paartjie op hul kleinhoewe in Shere aangeval is. Richard Lemmer (84) is erg gewond en sy vrou, Jemina (81) is dood nadat vier rowers hulle in Junie met ‘n hamer en strykyster gemartel het.

In Mei vanjaar is ’n man en vrou, albei in hul 40’s, deur twee mans op hul kleinhoewe in dié omgewing oorval. Hulle is met kabels vasgebind en met vuurwapens aangehou terwyl die rowers hul huis geplunder het.

Kort voor dié aanval is nóg ‘n bejaarde egpaar, Louis Swanepoel (82) en sy vrou Sandra (80) op hul kleinhoewe by Mooiplaats, skaars ‘n kilometer van die Boschkop-polisiekantoor, in ‘n skietery vermoor. Die egpaar se seun het op die bebloede lyke van sy ouers afgekom.

Charles Groenewald (76) is twee weke voor die Swanepoel-moorde tydens ‘n rooftog in sy huis op ‘n kleinhoewe doodgeskiet. Hy het homself probeer verdedig en een van sy aanvallers – na bewering ‘n polisiereservis van KwaNdebele – doodgeskiet. Sy vrou, Ralie Groenewald (72) is deur die rowers gewurg, maar het die aanval oorleef.

Die nuwe polisieminister, Nkosinathi Nhleko, het verlede maand gesê dat die regering plaasaanvalle en -moorde as ‘n prioriteitmisdaad gaan verklaar.

“Ons beskou sulke moorde in ‘n baie ernstige lig omdat dit nie net die gesinne van slagoffers raak nie, maar ook voedselvoorsiening, wat ‘n negatiewe impak op die ekonomie het,” het hy gesê.

Nhleko het gesê dat hy uiters bekommerd is oor plaasmoorde en dat hy aan die hand van ‘n gefokusde plan hoop om teen einde September ’n strategie en aksieplan gereed te hê waarmee hy hoop dat die voorkoms van plaasmoorde verminder kan word.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button