
Twee vermeende kapers, wat Donderdag ‘n koeriervoertuig in Die Wilgers gekaap het, is Vrydagmiddag deur die Garsfonteinpolisie in hegtenis geneem.
Garsfonteinpolisie-woordvoerder kaptein Hennie Steenkamp sê hulle het die twee verdagtes omstreeks 13:00 vasgetrek. ‘n Derde man, wat ook moontlik by die kaping betrokke was, het gevlug.
Die polisie het hom agternagesit en hy is ná ‘n jaagtog op die hoek van Lois- en Garsfonteinweg gevang.
Steenkamp sê daar is in totaal sewe verdagte mans in verband met die kaping aangekeer.
Twee van hulle wat positief met die kaping verbind is, word aangehou.
Die mans het Donderdag omstreeks 09:25 op ‘n RAM-koeriervoertuig in Rossouwstraat toegesak, die bestuurder en sy passassier saam met hulle in die voertuig gedruk en daarmee weggejaag.
Nick Noëth van ComSafe sê hulle is deur die publiek oor die kaping ingelig en het dadelik na die toneel gehaas: “Ons het die registrasienommer gekry en sowat 15 minute ná die voorval die voertuig in Murrayfield naby die Laerskool Skuilkrans opgespoor.”
CCTV-kamera-opnames wat in Murrayfield en omliggende gebiede deur die gemeenskap en ComSafe opgestel is, het gewys hoe die twee kapers en hul makkers in twee Volkwagen Golfs en ‘n Kombi vlug.
Hulle gesigte was ook duidelik in die opnames herkenbaar en die polisie het vasgestel dat hulle onlangs ook met huisbraak-toerusting in hulle besit gevang is.
Die aangekeerdes sal binnekort in die hof verskyn en die ondersoek duur voort.
Vir meer nuus, volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook.
